OUDTSHOORN NUUS - Die bou van 'n nuwe munisipale diereskut en ook die bou van die dierewelsynsorganisasie Oudtshoorn Diereherberg (ODH) se eie aanleg ondervind beide tans opondhoud, maar altwee instansies het hierdie week bevestig dat werk binnekort aan hul nuwe persele sal voortgaan.
Volgens 'n verklaring van die munisipaliteit is hulle tans besig om kwessies op te klaar ten opsigte van die kontrak waarvolgens 'n grondeienaar die stuk grond oorkant die huidige skut aan die munisipalitiet skenk vir die oprigting van 'n nuwe skut op die Rooiheuwel-pad.
"Die twee diere-organisasies wat kennis gekry het om hulle diere te verwyder, het nog 'n klein aantal honde in die skut, maar is besig om hulle te hervestig. Hulle bring nie nuwe diere in nie. Diere wat wel inkom word deur die munsipaliteit se skutbestuurder ingebring. Intussen is die een organisasie, Oudtshoorn Diereherberg, besig met die beplanning van die oprig van hulle eie skut."
Die bou van 'n nuwe munisipale skut is genoodsaak nadat die minister van landbou verlede jaar gesê het dat die huidige perseel van die munisipale skut 'n gesondheidsrisiko vir die diere inhou en dat dit moet skuif. Die skut is digby die plaaslike rioolplaas geleë.
ODH het na hul die uitsettingsbevel gekry het besluit om hul eie aanleg te bou, net 'n entjie van waar die huidige munisipale skut staan.
Ansa de Jager van ODH het bevestig dat vordering sedertdien gestop moes word weens die feit dat planne vir hul aanleg oorgeteken moes word. "Ons beplanning vir die opstel van ons eie perseel moes gewysig word om die servituut van 'n hoof waterpyp van die munisipaliteit wat deur die stuk grond loop in aanmerking te neem. Daar is wetgewing, reëls en magtigings wat eers in plek gekry moet word voordat enige bouwerk kan plaasvind," het sy gesê. Sy het bygevoeg dat bouplanne teen volgende week goedgekeur behoort te word.
Volgens De Jager hoop die organisasie om teen Oktober te kan begin bou, en het sy aansoek gedoen vir uitstel om diere wat deur ODH by die munisipale skut gehou word, te verwyder. Sy het gesê ODH het tot 31 Oktober uitstel gekry.
Vorige artikels:
- Verwikkelinge in dierewelsyn
- Oudtshoorn Diereherberg bou eie perseel
- Laaste aanmaning vir Odin
- Munisipaliteit gee kennis aan diere-organisasies
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’