Adriaan, 'n graad R-leerder aan De Jager Primêr by Buffelsdrift buite Oudtshoorn, is Maandag dood na 'n pilaar wat langs 'n plaasbegraafplaas staan op hom omgeval het.
Sy sussie, Antoinette May (10) is steeds erg getraumatiseer oor die fratsongeluk wat voor haar oë afgespeel het.
"Daar is drade wat om die pilare gespan is. Ek en Adriaan het op dit geswaai en afgespring. Toe ons dit die tweede keer weer doen het een van die drade pap geraak en ons het afgespring. Die pilaar het van agteraf op hom geval," vertel sy.
Sy pa, Abraham Pieterse, en ma, Elizabeth May, sê hulle is baie hartseer oor die gebeure.
"Adriaan was 'n lewendige seuntjie wat mal was oor speel. Hy het sy eie karretjies gebou uit enigiets wat hy kon kry al was dit 'n Omo-boks. Hy was nuuskierig en het oor als uitgevra. Ons moes hom altyd dophou omdat hy altyd iets wou doen of iewers heen gehardloop het," vertel die hartseer Pieterse.
Sy ma sê hy was slim op skool en was Maandag nog vreeslik opgewonde om te gaan.
"Ek sou nooit kon dink dat daardie totsiens-soentjie my laaste een van hom af sou wees nie," het sy gesê terwyl die trane vrylik oor haar wange rol.
Sy begrafnis is Sondag uit die Volkskerk op die Honde-eenheidpad.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê 'n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Die plek waar die jong seun gesterf het. Foto: Verskaf.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'