KLEIN KAROO NUUS - Hospitale in die Klein-Karoo (Oudtshoorn en Ladismith) het 'n vyfdag-rouperiode gehandhaaf ter nagedagtenis aan slagoffers van Covid-19, sowel as slagoffers van geslagsgebaseerde geweld.
Gedurende die tydperk van 25 tot 29 November het die landsvlag by die hospitale vanaf 06:00 tot 18:00 halfmas gehang.
Die rouperiode het ook gedien as bewusmaking en aanmoediging van alle landsburgers om 'n rol te speel om geslagsgebaseerde geweld en die moord op vroue teë te staan. Dit was ook 'n ernstige beroep op landsburgers om hulle deel te doen om die Covid-19-pandemie te beveg. Daar is tot op hede twee Covid-19-verwante sterfgevalle in Kannaland en 122 in die Groter Oudtshoorn-omgewing.
Nadia Ferreira, hoofkommunikasie-beampte van die departement van gesondheid in die Tuinroete en Sentraal-Karoo, sê die bestuurders van die twee hospitale salueer elke gesondheidsbeampte wat in hierdie moeilike tye alles gee om slagoffers by te staan.
Die bestuurders het ook hulle meegevoel met naasbestaandes wat familielede in hierdie tyd verloor het betuig, en 'n ernstige beroep op die publiek gedoen om streng by Covid-19-maatreëls te hou.
Verpleegpersoneel het tydens die roupriode swart gedra. Van links is Anthea Matola, Tina Scholtz, Chantel Jafta en Caroline Berendse van die Oudtshoorn-hospitaal.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'