OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou wat haar lewensmaat doodgemaak het deur hom met 'n mes in die nek te steek, is verlede Dinsdag in die streekhof onskuldig bevind op aanklag van moord, maar skuldig aan strafbare manslag.
Daphne Dondas (35) het erken dat sy op 10 Junie verlede jaar Arnold Titus (34) in hul woning in Black Joint, Bongolethu, met 'n mes gesteek het, nadat hy haar herhaaldelik met 'n sambok geslaan en gedreig het om haar met 'n swaard te steek.
Sy het getuig dat sy Titus net een keer gesteek het, maar kon nie verduidelik hoe hy 'n tweede wond aan sy wang opgedoen het nie.
Streeklanddros Ntsokli Moni het in haar uitspraak gesê Dondas het die grense van selfverdediging oorskry en haar aan strafbare manslag skuldig bevind. Sy het genoeg tyd gehad om te vlug toe die oorledene sy sambok in die kamer gaan haal het en sy, volgens haar eie getuienis, opgemerk het dat die slot aan 'n ketting waarmee die deur toegemaak word, nie toegedruk was nie. Sy het die sambok by die oorledene gegryp, onder haar linkerarm vasgedruk en toe die mes op die tafel met haar regterhand gegryp en een keer gesteek.
Haar regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof vir 'n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig gevra.
Volgens hom was Dondas geregtig om haarself te beskerm. Die oorledene het haar na die messteek gedreig dat hy haar met 'n swaard sal deurboor.
Die beskuldigde het wel 'n vorige veroordeling van diefstal in 2004 wat nie relevant is nie en sy is eintlik 'n eerste oortreder.
Hy het toegegee dat 'n persoon se lewe nie goedkoop is nie, maar dat die oorledene se dood tot 'n mate se eie skuld is.
Volgens Botha is Dondas nie 'n kandidaat vir tronkstraf nie en 'n ma van twee kinders.
Die staatsaanklaer Hyron Goulding, het die hof egter vir direkte gevangenisstraf gevra het omdat Dondas aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind is en nie juis enige berou toon nie.
"Elke persoon het die reg om te leef en nie eers die staat kan, volgens die grondwet, 'n persoon se lewe neem nie omdat die doodstraf afgeskaf is.
Oor die feit dat Dondas 'n eerste oortreder is het hy die Oscar Pretorius saak aangehaal waar die beskuldigde, ook 'n eerste oortreder, tronkstraf vir strafbare manslag (later moord) opgelê is. Volgens hom sal 'n vonnis van vyf jaar nie onvanpas wees nie.
Vonnisoplegging is uitgestel tot 17 Mei.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'