OUDTSHOORN NUUS - Om met vakansie te gaan of selfs net vir 'n naweek weg te gaan is waarskynlik op die stadium meeste mense se grootste begeerte, maar weens die landwye inperkings is dit nie moontlik nie.
Dit is egter moontlik om op sosiale media deur die Tuinroete of Klein-Karoo te reis danksy die Virtual Travel-Facebook-groepe wat deur Riaan Jordaan, Brendon Ciaravino, Daniel Lucas en Patrycja Oosthuizen gestig is.
Oosthuizen is van TravelChatSa en Travel Opulent Box, Kaapstad en behartig die Virtual Travel SA blad. Jordaan en sy span is van Riaan Jordaan Marketing & Photography en behartig Virtual Travel GardenRoute en Virtual Travel Klein Karoo.
Die vier en 'n span rolspelers werk almal in die toerismebedryf en is veral op sosiale media bemarking gefokus.
"Die idee is om mense te laat toer van die huis af. Meeste mense is keelvol vir nuus oor Covid-19 en als wat daarmee saamgaan en hier skep ons 'n geleentheid om weer die mooi van ons streke te sien," vertel Jordaan.
Volgens hom gaan dit nie oor die bemarking van besighede nie, maar om Suid-Afrikaners die mooi van elke streek te wys en waar hulle wat kan besoek.
"Toerisme-aantreklikhede kan dus steeds hulle aktiwiteite op die blaaie plaas, solank dit net nie bemarking raak nie. 'Toeriste' kan solank toer op die onderskeie blaaie en 'n wenslysie begin saamstel van plekke wat hulle wil besoek terwyl hulle ingeperk by die huis is."
Volgens hom is een van die belangrikste reëls ook dat daar geen Covid 19-inligting op die blad geplaas word nie.
"Ons voel daar is reeds genoeg groepe wat aandag aan die probleem gee. Ons probeer mense positief hou en wys dat toerisme steeds belangrik is al kan hulle nie op die stadium die plekke besoek nie."
Jordaan sê ook dat hulle op geen manier mense probeer beïnvloed om nou te begin reis en plekke te besoek nie.
"Ons is steeds in lockdown, maar niks keer jou om solank te begin kyk na als wat jy na die inperkings gaan doen nie."
Hy sê ook dat die onderskeie Facebook-groepe glad nie net op besighede gerig is nie, maar ook op diegene wat lief is daarvoor om deur die land te toer en te verken.
"Enigiemand is welkom om interessante en mooi foto's op die blaaie te sit en met die res van die streek te deel."
Besoek die Facebook-blaaie of www.facebook.com/groups/VirtualTravelKleinKaroo/
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'