PRINS ALBERT NUUS - Twee lede van die Wes-Kaapse regering het Prins Albert Dinsdag op Vrouedag besoek as gaste van die bekroonde Fransie Pienaar-museum se vieringe van dié spesiale dag waarop die vroue van Suid-Afrika gehuldig word.
Min. Sharna Fernandez, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, en Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het ’n groot groep inwoners op die dorp se markterrein aan die hoofstraat toegespreek.
Dit vorm deel van Fernandez en Marais se besoek aan die Sentraal-Karoo om hulle onder meer te vergewis van maatskaplike toestande en kulturele- en sportaktiwiteite in Leeu-Gamka, Prins Albert en omgewing.
“Dit gebeur nie aldag dat twee ministers ons dorp op een dag besoek nie,” het die speaker van die stadsraad, Stoffel Botes (DA), gesê. Die verrigtinge is ook bygewoon deur ander stadsraadslede, onder andere Linda Jaquet (DA), waarnemende burgemeester, munisipale amptenare, amptenare van die department -gesondheid, -korrektiewe dienste en -landbou, die Suid-Afrikaanse polisiediens, die Afrikaanse taal- en kultuurvereniging se bestuur, inwoners van Klaarstroom en De Rust en Lydia Barrella, kurator van die museum.
“Prins Albert is minister Fernandez se tweede tuiste, sy is passievol oor mense en die omstandighede waarin hulle hul bevind,” het Jaquet gesê.
Volgens Fernandez is dit gepas om op Vrouedag te dink aan die krag en deursettingsvermoë van die groep vroue wat op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou in Pretoria gestap het in ’n poging om die gemeenskap bewus te maak van die posisie waarin vroue hulle bevind, en om die houding van die samelewing teenoor vroue te verander sodat die struikelblokke verwyder kan word waaronder vroue gebuk gaan.
"Hoewel leef- en werkomstandighede vir vroue oor die afgelope jare baie verbeter het, kom hulle steeds te staan teen aspekte soos onderverteenwoordiging, onderbetaling, seksuele teistering, gebrekkige veiligheid en ’n beperkte toegang tot geleenthede.
“Geslagsgebaseerde geweld (GGG) is ’n wêreldwye verskynsel, maar in Suid-Afrika het dit krisisafmetings bereik. Die patriargale norme wat eers geheers het, het hiertoe bygedra. In Prins Albert alleen het die getal gerapporteerde gevalle van GGG van Januarie tot Maart vanjaar verdubbel.
“Ek staan hier as ’n vrou wat seksuele geweld oorkom het, ’n ambassadeur vir GGG. Dis iets wat tussen die ouderdom van elf en sestien met my gebeur het. Ek is ook in my eerste huwelik mishandel. Toe ek op ’n keer uit die hospitaal stap nadat ek mishandel is, het ek myself belowe dat dit nooit weer sal gebeur nie. Tog was ek skaam en bang, en het gevrees dat ek nie geglo sal word nie. Maar ek het my stem later gevind.
“En dit is wat ek vandag wil sê, moenie stilbly oor mishandeling nie. As jy nie praat oor dit wat jy moet trotseer nie, is jy medepligtig aan geweld wat teen ander vroue gepleeg word. Silence is violence.”
Die Wes-Kaapse regering maak vordering op dié gebied, het Fernandez gesê.
“Ons is die enigste provinsiale regering met ses eiendomme wat dien as plekke van veiligheid vir vroue en kinders wat onder geweld ly. Dis plekke waar ons vroue bemagtig, want vroue wat uit sulke omstandighede wegkom, móét ondersteun word.
"Ons help vroue om die siklus van geweld te breek. Vroue moet ook leer dat GGG niks is om oor skaam te wees nie – dis nie jóú skuld nie.”
"Marais het gesê dat vroue mekaar se stories moet ken. Ons het sterk vroue in die Wes-Kaap, daarom verbind my departement hom ook tot geleenthede vir vroue, en wil ons ons jong meisies veilig hou.
"Prins Albert kan byvoorbeeld trots wees op sy werkmag van jong vroue wat in diens is van die plaaslike museum en die biblioteek."
Linda Jaquet (waarnemenede burgemeester van Prins Albert).
Sharna Fernandez (LUR vir maatskaplike ontwikkeling).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'