Update
OUDTSHOORN NUUS - Die twee verdagtes wat van moord op die 19-jarige matrikulant, Angelo Manewille, in 2018 aangekla word, het vir die eerste keer in die Oudtshoorn-streekhof verskyn.
Richard Manel (40) en Shaun Nagel (39), word daarvan aangekla dat hulle Manewille op Saterdag 28 Julie 2018 wreed in Springbokweg, Bridgton, vermoor het.
Die oorledene is glo deur Nagel vasgehou en twee keer deur Manel met 'n mes gesteek.
Die ondersoekbeampte, ao. Piet Hendricks, het tydens hul borgtogaansoek in die landdroshof getuig dat hy die ondersoek in Oktober 2018 oorgeneem en verklarings van talle ooggetuies bekom het wat die twee beskuldigdes met die moord verbind. Die beweerde voorval het plaasgevind terwyl Manel op parool was.
Landdros Roelf Konstabel het met die borgtogaansoek beklemtoon dat die beskuldigdes teregstaan op 'n ernstige misdryf en dat die gemeenskap baie ongelukkig daaroor is.
Daar is egter geen getuienis voor die hof wat daarop dui dat die twee se vrylating tot enige onrus in die gemeenskap sal lei nie. Hul regsverteenwoordiger, Thelisha Piedt, het gesê dat hulle op borgtog geregtig is. D
ie hof het borgtog van R1 000 aan elk van die twee toegestaan en gelas dat hulle drie dae per week by die Bridgton-polisiestasie aanmeld, nie kontak maak met die agt staatsgetuies nie en ook nie by verdere misdaad betrokke raak nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak vir verhoor tot 22 November uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Moordbeskuldigdes kry borgtog
- 2 in hof vir moord van matrikulant
- Optog oor moordsaak wat nie begin
- Matrikulant doodgesteek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'