Update
OUDTSHOORN NUUS - Die ma van 'n matriekseun op Oudtshoorn, wat in Julie vanjaar vermoor is en daar volgens haar, nog niks van die saak geword het nie, het 'n skrywe aan die stasiekommissaris van die Oudtshoorn-polisie gerig om antwoorde te kry.
Familie, vriende en klasmaats van die 19-jarige Angelo Manewille van die Hoërskool Môrester, het Maandag saam met sy ma, Antoinette Manewille, vanaf die moordtoneel in Springbokweg met plakkate na die Bridgton-polisiestasie gestap waar die skrywe aan lt.kol. Andiswa Mantyi van die speurdiens oorhandig is.
Manewille skryf in die brief dat sy diep ongelukkig is oor die aangeleentheid.
Volgens haar is 'n verdagte 'n dag na haar seun se dood in hegtenis geneem, maar die volgende dag weer vrygelaat.
Daarna het nog niks gebeur nie en wil sy graag van die polisie weet wat die situasie is.
Volgens Manewille is sy op 31 Augustus deur ao. Martin le Roux meegedeel dat hy die saak oorgeneem het en gereeld terugvoering aan haar sal gee.
"Dit het tot vandag toe nie gebeur nie," sê Manewille en sy wonder wie die saak "gekelder" het.
Volgens Manewille versoek sy die kommissaris, brigadier Lavona Januari, om binne sewe dae terugvoering te gee.
"Ek sal nie rus voordat my kind se moordenaar of moordenaars gestraf word vir wat hulle aan my gedoen het nie."
Antoinette Manewille (met wit kopdoek) staan hier langs lt.kol. Andiswa Mantayi van die speurdiens en matriekleerders van die Hoêrskool Môrester, en klasmaats van die vermoorde Angelo Manewille. Foto: Garnett Wicomb
Lees 'n vorige artikel hier: Matrikulant doodgesteek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'