Update
OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R1 000 elk met streng voorwaardes, is dié week in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan die twee verdagtes wat van moord op 'n 19-jarige matrikulant aangekla word.
Landdros Roelf Konstabel het bevind dat daar nie getuienis voor die hof is wat aandui dat Richard Manel (40) en Shaun Nagel (39), sal vlug, hul hofverskynings nie sal bywoon of weer by misdaad betrokke sal raak nie.
Verder is ook bevind dat hul vrylating nie tot enige onrus in die gemeenskap sal lei nie en dit in belang van geregtigheid is dat borgtog wel toegestaan word.
Angelo Manewille is op Saterdag 28 Julie 2018 wreed in Springbokweg, Bridgton, vermoor toe hy glo deur Nagel vasgehou en twee keer deur Manel gesteek is. Die ondersoekbeampte, ao. Piet Hendricks, het getuig dat hy die ondersoek in Oktober 2018 oorgeneem en verklarings van talle ooggetuies bekom het wat die twee beskuldigdes met die moord verbind.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het die hof versoek om nie borgtog toe te staan nie omdat die belange van die gemeenskap sterk na vore kom. Die hof moet ook die twee petisies wat ingehandig is in aanmerking neem.
Die beweerde voorval het plaasgevind terwyl Manel op parool was en hy het twee vorige veroordelings op sy rekord.
Sy het die hof versoek om holisties na die getuienis voor die hof te kyk.
"Dit is verswarend om vir moord in die hof te staan wat glo gepleeg is terwyl Manel op parool was," het sy gesê.
Volgens haar is die gemeenskap geskok oor die moord en moes die oorledene se ma, Antoinette Manewil, ekstra moeite doen om die twee verdagtes aangekeer te kry. Sy het in Oktober verlede jaar 'n optog na die polisiekantoor gereël en 'n versoekskrif aan die stasiekommissaris oorhandig nadat Manel 'n dag na die dood van haar kind in hegtenis geneem en die volgende dag vrygelaat is. Die saak was nooit op die hofrol nie.
Sy het gepleit dat die twee verdagtes in aanhouding bly omdat sy haar enigste seun verloor het en sy dood haar gehospitaliseer het.
Manel en Nagel se regsverteenwoordiger, Telisha Piedt van Coetzee en Van der Bergh Ingelyf, het die hof om borgtog gevra omdat nie een van die twee beskuldigdes enige hangende sake of lasbriewe teen hulle het nie. Albei beskik oor vaste werk en alternatiewe adresse ver van die getuies. Daar is ook geen getuienis dat hulle sal vlug nie.
Volgens haar het Nagel 'n skoon rekord en is geen getuienis voor die hof dat hulle staatsgetuies sal intimideer nie.
Sy het ook aangevoer dat dit onseker is of die staat 'n prima facie saak teen die twee het. Sy het die hof die versekering gegee dat hulle alle borgtogvoorwaardes sal nakom.
Die landdros het beklemtoon dat die beskuldigdes teregstaan op 'n ernstige misdryf en dat die gemeenskap baie ongelukkig is daaroor.
Daar is egter geen getuienis dat daar na die dood van die oorledene, en die vrylating van Manel 'n dag later, enige onrus was nie.
Hy het die ma se getuienis in ag geneem en die hoop uitgespreek dat sy uiteindelik geregtigheid in die saak sal vind.
Volgens die landdros pla dit hom dat die polisie nie opgetree het na die dood van die seun nie en verstaan hy nie waarom die saak nie destyds op die hofrol geplaas is nie.
Die hof het gelas dat Manel en Nagel drie dae per week by die Bridgton-polisiestasie aanmeld, nie kontak maak met die agt staatsgetuies nie en ook nie by verdere misdaad betrokke raak nie.
Die saak is vir 'n streekhofbeslissing tot 13 Junie uitgestel.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'