OUDTSHOORN NUUS - Die mesdood van die 18-jarige Angelo Manewil het die afgelope naweek skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Manewil is in die nek en bors gesteek nadat hy van diefstal verdink is. Hy het op die toneel aan sy wonde beswyk. Manewil, wat onder vriende en familie bekend was as Engel, was 'n leerder van Hoërskool Môrester.
Kapt. Louis visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê in 'n persverklaring die voorval het Saterdagmiddag om 17:00 in Springbokweg plaasgevind.
"Daar word beweer dat die oorledene 'n 17-jarige tiener beroof het. Die oorledene het na bewering met 'n mes na die kind en ander persone gesteek. Die beskuldigde het hulle toe verdedig en die oorledene in die nek gesteek.
"Die 39-jarige verdagte is gearresteer op aanklag van moord. Die saak is nie Maandag op die hofrol geplaas nie en die verdagte is vrygelaat. Die polisie is deur die hof opdrag gegee om nog verklarings van ooggetuies te bekom."
Twee ooggetuies, wat saam met Manewil was voor hy doodgesteek is, sê dis nie waar dat hy iemand beroof het nie. Die ooggetuies wat nie hulle name genoem wil hê nie, sê hulle sal ook verklarings by die polisie aflê.
"Almal jok nou en maak asof Engel die vark in die verhaal was. Die waarheid is dat Engel op die randsteen van die sypaadjie gesit het toe iemand anders die kind van 'n horlosie en selfoon beroof het. Een van Engel se vriende het toe ingetree en die kind se goed is teruggegee."
Die liggaam van Angelo Manewil op die toneel waar hy doodgesteek is. Foto: Verskaf
Volgens een van die ooggetuies het twee mans skielik op Manewil toegesak.
"Een van Engel se vriende het probeer om die mans van hom af weg te hou. Een man het 'n bierbottel stukkend geslaan en hom in die nek gesteek. Engel het geval en kon nie weghardloop nie. Die ander man het met 'n mes na Engel gekom en hom in die bors gesteek. Engel het in een van sy vriende se arms gesterf. Ons was daar, Engel het niks verkeerd gedoen nie."
Manewille se ma, Antoinette Manewil, sê kan nie glo hy is so wreed vermoor nie.
"Ek hoor ook maar mense sê hy wou iemand beroof. Die mense wat saam hom was vertel 'n ander storie. Hulle sê hy het niemand leed aangedoen nie. Wat hartseer is, is dat ons besig was om voor te berei vir sy matriekafskeid. Hy het so uitgesien na die afskeid en kon nie ophou daarvan praat nie. Nou is my kind vermoor."
Sarah Minnies, Angelo se ouma wat hom grootgemaak het, sê die speurders het nog nie met hulle kontak gemaak nie.
Antoinette Manewil (links), Angelo se ma, saam met Sarah Minnies, Angelo se ouma. Foto: Hein Coetzee
"Nie een polisieman of speurder was al by ons nie. As my kind iets verkeerd gedoen het kon hulle mos die polisie gebel het. Niemand het die reg gehad om sy lewe te neem nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'