Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van die vier verdagtes van George wat teregstaan op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie het Maandag uiteindelik in die Oudtshoorn-streekhof begin en is tot vandag (Donderdag 25 Mei) op die hofrol.
Die saak spruit uit 'n rooftog op 19 Julie 2021 toe 'n sekerheidswag van Fidelity Cash Solutions Lonwabo Maqwasa, by die Bridgton BP Garage, deur twee gemaskerde mans, geboei en van sy vuurwapen en 'n geldsak met meet as R86 000 daarin, beroof is.
Die verdagtes, Simphiwe Matwa, Masixole Dolombo en Lwandiso Lento is op 19 Julie, kort na die roof in hegtenis geneem. Sakhele Nkabi, 'n kaptein verbonde aan die Oudtshoorn Infanterieskool is op 23 Julie in hegtenis geneem.
Hulle staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van twee vuurwapens en ammunisie.
Die hof het die week gehoor dat een van die beskuldigdes, Simphiwe Matwa, ook vroeër 'n werknemer van Fidelity Cash Solutions was.
Dit was die getuienis van Maqwasa, sowel as Shaun Thessner, 'n spanleier by Fidelity Cash Solutions, wat albei vir Matwa baie goed ken.
Een van die polisiebeamptes wat die blou Nissan Sentra met drie van die verdagtes by die afdraai na Blanco voorgekeer het, kapt. Gerhardt Roux, het Dinsdag getuig dat hy twee vuurwapens onder die voorste sitplekke sien lê het asook die sak met die geld in die kattebak. Hy self het dit egter nie hanteer nie, het hy getuig.
Roux het onder kruisverhoor deur Matwa se regsverteenwoordiger, adv. Pieter van Wyk, gesê dat die drie verdagtes, sonder teenstand die bevele van die polisie gehoorsaam het en nie probeer vlug het nie.
Hulle moes op die grond lê terwyl die polisie met hul ondersoek besig was.
Shaun Tessner het getuig dat hy Matwa se motor by die "vurk", die aansluiting van die pad vanaf Oudtshoorn met die pad na Uniondale, sien staan het toe hy na die rooftog onderweg was na Oudtshoorn. Hy kon nie sien hoeveel persone in die motor was nie, maar is seker dat dit Matwa s'n was aan die merke aan die bestuurderskant.
Hy het ook getuig dat die geld die volgende dag (20 Julie) in Matwa se teenwoordigheid getel en dit R86 698.00 was.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is nog vir verdere getuienis op vandag (Donderdag 25 Mei) se hofrol.
Masixole Dolombo
Sakhele Nkabi
Lwandiso Lento
Drie van die verdagtes tydens hul in hegtenisname.
Vorige artikels:
- Vermeende transitorowers wil appelleer
- Roofsaak word weer uitgestel
- Transitoroof: Borgtog aan al 4 geweier
- Transitoroof: Saak weens Covid uitgestel
- Transitoroof: Saak vir uitspraak uitgestel
- Borgtogaansoek op 17 Augustus voort
- Beweerde transitorowers voor vir borgtogaansoek
- Weermag kaptein doen in Augustus aansoek om borgtog
- Oudtshoorn soldier 4th suspect in heist
- Opvolg: Gesteelde geld teruggevind
- Rowers teiken geldwassery
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’