OUDTSHOORN - Die saak teen die vier verdagtes in die transitoroof aan wie vroeër vanjaar borgtog geweier is, is Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof tot volgende maand uitgestel omdat daar steeds gewag word vir sekere verslae wat deur die staat aangevra is.
Simphiwe Matwa (41), Lwandiso Lento (36), Masixole Dolomba (27) en die weermagkaptein, Sakhele Nkabi (36), almal van George, staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie asook die onwettige besit van 'n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.
Die saak spruit uit 'n voorval in Julie vanjaar toe 'n sekerheidswag van Fidelity by 'n vulstasie in Bridgton van sy vuurwapen en 'n groot bedrag geld beroof is.
Die staatsaanklaer, adv. MP Heyns het tydens die vier se borgtogaansoek die hof meegedeel dat dit tussen twee en drie maande neem om die DNS-, vingerafdrukverslae en selfoonrekords te bekom.
Landdros Stephanie Strydom het die saak Maandag tot 19 November uitgestel omdat die verslae nog nie ontvang is nie.
Vorige artikels:
- Transitoroof: Borgtog aan al 4 geweier
- Transitoroof: Saak weens Covid uitgestel
- Transitoroof: Saak vir uitspraak uitgestel
- Borgtogaansoek op 17 Augustus voort
- Beweerde transitorowers voor vir borgtogaansoek
- Weermag kaptein doen in Augustus aansoek om borgtog
- Oudtshoorn soldier 4th suspect in heist
- Opvolg: Gesteelde geld teruggevind
- Rowers teiken geldwa
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'