Die kinders van die Invalsentrum het verlede Vrydag `n verskeidenheidsprogram aangebied aan genooide gaste wat deurgaans by die sentrum betrokke is.
Volgens George was die aanbied van die program vir die kinders van groot belang. "Die kinders wou hierdie dag aanbied om dankie te sê."
Op hul beurt het twee van die seuns vertel dat die sentrum aan hul lewens `n groot verskil gemaak het. Beide het getuig dat hulle besig is om dwelmverslawing die stryd aan te sê en daarvan afgesien het om misdaad te pleeg. "Ons kry liefde hier," het een seun vertel.
Franzu Badenhorst, direkteur: Famsa Karoo het verduidelik dat die invalsentrum se werksaamhede deur wetgewing gelei word. Straatkinders kan slegs uit vrye wil die sentrum besoek. Badenhorst wat Vrydag sertifikate aan die kinders uitgedeel het in erkenning van hul bywoning, het verduidelik dat daar gefokus word op kinders wat 'as kwesbaar' in verskeie gemeenskappe geïdentifiseer is.
Sommige het volpunte ontvang vir hul bywoning van 50 uit die 50 dae terwyl die kind met die minste bywoning as 38 uit die 50 dae aangeteken is.
Die sentrum gaan van krag tot krag met verskeie nuwe projekte wat beplan word. Twee jong mans sal as straatmonitors aangewend word om só potensiële probleme te onderskep.
Die sentrum wat in Wolfweg geleë is, gaan ook binnekort uitgebrei word om kinders van verskeie ouderdomme te akkommodeer.
Rhodé Snyman en Linda Marques Wilson van die Absa KKNK vertel meer oor hul deurlopende betrokkenheid by die Invalsentrum. Hulle het ook Kerspakkies aan die kinders uitgedeel. Foto's: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'