OUDTSHOORN NUUS - Munisipale vullisverwydering gaan voort soos normaal na daar verlede week onderbrekings, veral in die Wesbank-area, was.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het mense wat rommel by die munisipale stortingsterrein versamel, die personeel van reinigingsdienste gedreig.
"Daar was sekuriteitsprobleme by die vullisgate en daarom is die vullis in woonbuurte nie verwyder nie. Die munisipale bestuur het egter die probleem opgelos."
Volgens Mangqwengqwe is die bestuurders van die vullisverwyderingsvragmotors, sowel as die ander personeel met skerp voorwerpe gedreig en met klippe gegooi.
Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het gesê veiligheidsmaatreëls by die stortingsterrein is versterk.
"Die polisie is betrek en die munisipaliteit het sekerheidsbeamptes by die ingang van die stortingsterrein aangestel," het Paulse gesê.
Paulse het inwoners wat self vullis by die stortingsterrein weggooi gevra om vir veiligheidsdoeleindes eerder Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 17:00 en Saterdae tussen 08:00 tot 14:00 te gaan.
Die stortingsterrein sal nie Sondae oop wees nie en die tye is ook vir publieke vakansiedae geldig.
"Die sekerheidswagte is vir die veiligheid van ons personeel en inwoners van ons dorp aangestel. Diegene wat na-ure na die stortingsterrein gaan doen dit op eie risiko," het Paulse gewaarsku.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'