DYSSELSDORP NUUS - Die verhoor van ‘n man wat teregstaan op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, aanranding om ernstig te beseer, diefstal en handeldryf in dwelms is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof na slotargumente van die staat en die verdediging vir uitspraak uitgestel.
Justin Jacobs (31) het glo op 3 Maart 2019 vir Bestoné Tiemie van Calitzdorp met iets soos ‘n vuurwapen gedreig en van R600 kontant beroof. Hy het haar glo ook op die grond gegooi, geskop en ‘n selfoon van haar gesteel.
Die aanklag van handeldryf in dwelms handel oor ‘n voorval op 13 Februarie 2019 toe hy glo besig was om dagga in ‘n gat op Tiemie se erf te versteek.
Hy het weggehardloop toe die polisie op die toneel aangekom het.
Jacobs pleit onskuldig op al die aanklagte en voer aan dat Tiemie die aanklagte teen hom opgemaak het.
Volgens Jacobs se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, was hy en die klaer in ‘n verhouding en baie jaloers op mekaar. Hulle het saamgebly en mekaar se eiendom gebruik.
Volgens haar is die groot vraag of die klaer se getuienis deur die hof aanvaar kan word. Die staat het nie ooggetuies geroep om te kom getuig nie, terwyl daar ook geen mediese verslae oor die beweerde aanranding aan die hof beskikbaar gestel is nie.
“Die klaer en die beskuldigde was in ‘n gevaarlike verhouding,” het Smith gesê.
Smith sê indien die hof na die getuienis in geheel kyk, sy van mening is dat die staat nie sy saak teen die beskuldigde bo redelike twyfel bewys het nie en hy op vryspraak geregtig is.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, is egter van mening dat Jacobs op al vier aanklagte skuldig bevind moet word.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla, en is vir uitspraak tot 10 Maart uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Karoo nuus'