Update
PRINS ALBERT NUUS - 'n Vliegveld by afgeleë plattelandse dorpe is 'n strategiese bate. Daarom moet Prins Albert syne behou en behoorlik in stand hou, soos dié by verskeie ander Wes-Kaapse dorpe.
So sê Andrew Gregory, lugambulansvlieë-nier van die Rooikruis-lugambulansdienste, Air Mercy Services (AMS), wat onlangs van Kaapstad na Prins Albert gevlieg het om 'n pasiënt van die plaaslike provinsiale hospitaal vir behandeling na Kaapstad te vervoer.
AMS werk in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo. Sy ander Wes-Kaapse basis is in Oudtshoorn vanwaar 'n helikopter diens doen.
Hoewel nooddienshelikopters gereeld op 'n oop ruimte by Prins Albert se provinsiale hospitaal land om pasiënte te vervoer, was dit die
eerste keer in jare dat 'n vliegtuig vir dié doel land.
Gregory was agter die stuurstang van 'n Pilates PC-12 wat volledig toegerus is met mobiele hoësorgtoerusting.
'n Vlug vanaf Kaapstad na Prins Albert duur ongeveer 45 minute – 'n rit wat padlangs sowat vier ure duur.
"Die AMS wat vanuit Kaapstad vlieg, het verskeie vrywillige vlieëniers in diens," het Gregory gesê. "Ons stel onsself vir gemiddeld agt tot tien skofte per maand beskikbaar. Ons kry geen vergoeding nie, maar wel gereelde opleiding. Die Wes-Kaapse lugambulansdiens werk regoor dié provinsie, asook in die Noord-Kaap. Dis 'n diens wat 24 uur per dag, sewe dae per week beskikbaar is."
Die Rooikruis-AMS is 'n nie-winsgewende organisasie wat in 1966 gestig is met een sessitplek-Cessna 205 in sy diens.
Gregory was, voor sy aftrede uit die aktiewe werkslewe, onder meer in Zimbabwe gestasioneer.
Sy onderneming het vliegtuie besit wat gebruik is vir werksopdragte in Afrika.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'