TUINROETE DISTRIKSNUUS - Erfenisdag en Toerismemaand is net twee van vele uitstekende redes waarom lede van die Suid-Kaap-oumotorklub (SKOMK), ondersteun deur Recollection Rides, van 23 tot 26 September die pad aandurf.
Die groep van 46 deelnemers en 26 uitsonderlike motors, vertrek vanaf Halfway Toyota in George om 08:00 op Donderdag 23 September, sodra die ondersoekproses, waar daar seker gemaak word alle voertuie is padvaardig en dat daar aan alle SAVVA (Southern African Veteran and Vintage Association) vereistes voldoen word, afgehandel is.
Die eerste stop na daar in George weggetrek is, is by Delish in Heidelberg, voordat daar Swellendam toe gemik word. Bestuurders draai daarna hul neuse kuswaarts en oornag in die sjarmante stranddorpie Waenhuiskrans (Arniston).
Erfenisdag word op 24 September gevier met ‘n roete wat Baardskeerdersbos, Gansbaai, Caledon, Franschhoek, waar die outomobielmuseum besoek sal word, en Villiersdorp in. Die toer sluit vir die dag in Worcester af.
Op 25 September vertrek die Erfenistoer vanuit Worcester en ry verby Montagu, Barrydale en Calitzdorp voordat die dag in Oudtshoorn voltrek word met ‘n uithangaand en prysuitdeling.
Die toergeselskap keer Sondag terug George toe via De Rust en Uniondale.
"Daar word nie van bestuurders verwag om ‘n konvooi te handhaaf nie, sodat hulle na hartelus ompaaie kan verken," sê Pierre Olivier, organiseerder van die toer. Volgens hom is daar ook 'n rugsteunvoertuig wat sal toesien dat niemand êrens langs die pad agtergelaat word nie.
Die SKOMK organiseer ook die gewilde George-oumotorskou, wat gehou word op 12 en 13 Februarie volgende jaar.
Besoek gerus www.scocc.co.za vir fynere besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'