LADISMITH NUUS - Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoekdossier geopen na die skokdood gister van die 6-jarige Juwandré Daniels van Koelmanstraat, Ladismith.
Juwandrè en sy boesemvriend, Jerenawin Stuurman (12) het op die ”Landjie”, ‘n oop stuk grond by die woonbuurt Nissenville, gespeel. Volgens Jerenawin, wat met ‘n verslaggewer gepraat het, het Juwandré aan ‘n draad gevat wat oor kragakbels gehang het.
Volgens die seun het hy Juwandré probeer keer maar is self geskok toe hy aan sy maatjie se lyf gevat het.
Volgens hom het hy huis toe gehardloop en sy ouers gaan roep.
Inwoners wat op hulle stoep gesit het, het gesê hulle het gesien hoe die seuntjie deur die lug getrek het.
Volgens ‘n polisieverklaring was lede van die misdaadvoorkomingseenheid in Peceurstraat op patrollie toe hulle deur lede van die gemeenskap voorgekeer is en ingelig is dat ‘n seuntjie doodgeskok is.
Volgens die polisie word geen gemene spel vermoed nie.
Jerenawin se ouers, Jimmy en Ans Stuurman was vanoggend op die toneel waar Juwandré se liggaam gister gevind is. “Ons treur saam met Jo-Anne. Dit kon ons seuntjie ook gewees het”, sê Ans.
Jo-Anne Daniels (30), Juwandré se ma was vanoggend nog in ‘n geskokte toestand. Volgens haar het Juwandré gisteroggend opgestaan en soos gewoonlik na Jerenawin gegaan. ”Hy het later teruggekom en genoem dat hy honger was en is toe weer na Nawin toe. Die namiddag is hy weer soontoe met `n paar appelkosies.”
Volgens Daniels het ‘n meisie wat sy ken haar kom roep en vertel van haar seuntjie se ongeluk. Sy het haar na die toneel gehaas en sê mense het haar gekeer toe sy aan haar seuntjie wou raak. “Die mense het my gekeer en gesê daar’s nog krag in hom. Hy het op sy magie gelê en sy een sy handjie was swart gebrand.
"Ek is stukkend, hy was my eersgeborene.”
Die liggaam is deur die department van gesondheid se forensiese en patologiese afdeling verwyder en volgens die polisie sal ‘n nadoodse ondersoek gedoen word.
Teen vandag was geen begrafnisreëlings nog getref nie.
Dit is tans onbekend hoe lank die stuk draad waaraan die slagoffer geraak het, al daar hang en of dit voor die voorval deur lede van die gemeenskap aangemeld is.
Juwandré Daniels. Foto verskaf
Jo-Anne Daniels, Juwandré se ma Vrydagoggend by haar huis. Foto: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'