OUDTSHOORN NUUS - Die gemeenskap van Spekbos, Lategansvlei, het die afgelope Paasnaweek geen moeite ontsien om 'n groot partytjie vir die kinders op Paassondag te reël nie.
Volgens een van die inwoners en organiseerders, Dario Urbanski, is daar reeds sedert Vrydagaand gewoel om dié dag 'n sukses te maak.
Tydens die verrigtinge Sondag by die Lategansvlei-sokkerstadion is daar Paasverhale vertel gevolg deur 'n heerlike worsbroodjie vir die deelnemers sowel as vir die ouers.
Daarna het die speletjies in alle erns begin. Almal moes krale versamel wat die letters Paasfees op 'n armband uitspel waarna die gelukkiges 'n prys ontvang het.
Na 'n kort pouse het die skilderkompetisie vir Paaseiers begin.
Die beoordelaars moes die pryse in ouderdomsgroepe bepaal wat volgens Urbanski nie 'n maklike taak was nie.
"Die kreatiwiteit het regtig gevloei en daar was werklike kunswerke wat sommige deelnemers opgelewer het. Baie dankie aan almal wat die dag ondersteun het en ook na die tyd gehelp het om op te ruim. Ons maak volgende jaar weer so."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'