OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man wat 'n verstandelik gestremde meisie verkrag het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof lewenslank tronk toe gestuur.
Die 58-jarige Willem Matroos is daaraan skuldig bevind dat hy in 2020 geslagsgemeenskap het met 'n meisie, wat fisies tussen 19 en 20 jaar oud was, maar die intellek van ‘n kind tussen ses en nege jaar.
Sy was 17 weke swanger toe die familie dit agtergekom het en op ‘n aborsie besluit het.
Die beskuldigde se DNS het hom tot die verkragting verbind.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat daar geen wesentlike en dwingende omstandighede bestaan om van die mimimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf af te wyk nie.
Matroos het die slagoffer geken en hy het geen berou getoon nie. Hy toon geen respek vir haar nie en terwyl hy haar moes beskerm misbruik hy sy posisie.
Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
Die hof het verder ‘n terapie-bevel vir twee jaar gelas met die opdrag dat die betrokke maatskaplike werker elke ses maande ’n verslag by die hof indien.
Die psigologiese nagevolge en trauma wat die slagoffer deurgemaak het sal volgens die landdros altyd daar wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'