OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ’n pa en seun van Beaufort-Wes wat teregstaan op vier aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof vir die slotargumente van die verdediging tot Augustus uitgestel.
Noël Verwey (58) en sy 22-jarige seun, Noël André Verwey, word daarvan aangekla dat hulle op 21 November 2015 twee dertienjarige en twee veertienjarige skoolleerders, in 'n straat in Beaufort-Wes met die vuiste en ’n piksteel geslaan het.
Hulle ontken skuld.
Die staatsaanklaer, Mervin Saayman, het die hof vir skuldigbevinding op al vier aanklagte gevra omdat die beskuldigdes die gesamentlike doel gehad het om die klaers te beseer. Die Verweys se regsverteenwoordiger, Alwyn Griebenouw, het die hof versoek om eers weer na die getuienis van die klaers te kan luister voordat hy sy betoog kan lewer. Hy het vroeër in ‘n ontslagaansoek ingevolge Art 174 van die strafproseswet aangevoer dat die twee ontslaan behoort te word omdat daar volgens hom, te veel weersprekings van die klaers was, en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Streeklanddros Daniël Boks het die aansoek egter van die hand gewys omdat hy van mening is dat die staat wel ‘n prima-facie saak teen die beskuldigdes het en geen getuienis voor die hof is om hulle vry te spreek nie. Redes vir die weiering is oorgehou tot die einde van die verhoor.
Die saak teen die beskuldigdes het laat verlede jaar op Beaufort-Wes begin nadat die direkteur van openbare vervolging (DOV) gelas het dat hulle verhoor moet word.
Die vier klaers, het verlede Maandag deur middel van ‘n tussenganger getuig omdat hulle steeds minderjarig is. Volgens hul getuienis was hulle die betrokke dag onderweg om die sluiting van die skool te gaan vier toe hulle in die truspieëltjie van ‘n bakkie wat in die straat geparkeer was, na hul hare gekyk het. Die twee beskuldigdes het hulle gesien, agternagesit en met die vuiste asook ‘n piksteel aangerand.
Die jonger Verwey het verlede week getuig dat hulle die klaers wou vang om aan die polisie te oorhandig. Volgens hom was die agterlig van die bakkie glo gebreek, maar die skade nie groot nie. Hy het ontken dat die kinders aangerand is. Volgens hom het hy op ‘n stadium sy pa te hulp gesnel toe hy en een van die kinders op die grond gestoei het.
Saayman het in sy betoog gesê hy vind dit vreemd dat die twee beskuldigdes se getuienis feitlik dieselfde is.
“Dit gebeur min dat twee beskuldigdes se getuienis so ooreenstem. Hy het toegegee dat daar weersprekings in die getuienis van die klaers is, maar dat dit te wagte kan wees en nie ‘n gefabriseerde is nie.
Die beskuldigdes het getuig dat hulle die kinders wou vang om aan die polisie te oorhandig, maar nadat hulle gevang is, dit nooit gedoen nie.
“Ten spyte van deurtastende kruisondervraging het die kinders by hul weergawe gehou,” het Saayman gesê.
Streeklanddros Daniël Boks het toestemming verleen dat die opname van die klaers se getuienisse aan die verdediging beskikbaar gestel word en die saak vir voortsetting tot 26 Augustus uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'