Diana Swarts (47) se man, Kosie, het Saterdagaand 'n brood en kerse gaan koop waarna hy straataf is om mense met los werkies aan die huis te gaan help. Sy was alleen in die huis toe dit in vlamme uitgebars het.
Volgens Donito May het Diana en Kosie in 'n klein pakkamer agter in hul erf gebly omdat hulle geen ander heenkome gehad het nie.
Die gesin het alles in die brand verloor.
"Dit is nie groot nie, maar ek het hulle jammer gekry en vir hulle die pakkamer aangebied. Sy het Saterdagaand op hulle bed gelê en wag dat Kosie moet huis toe kom sodat sy vir hulle 'n broodjie kan maak toe die kers omgeval het. Ek was oorkant die pad by my ma toe ek hoor hoe skree die mense. Toe ek buite kom sien ek die pakkamer brand. Ek en die polisie het nog probeer om by haar uit te kom, maar dit was te laat. Sy het agter die deur ingeval en omdat die deur na binne oopmaak kon ons haar nie uithaal nie. Die vlamme was te groot om verder te probeer. Ons het haar voete agter die deur sien uitsteek. Sy het nie 'n geluid gemaak ter-wyl sy gebrand het nie," vertel May.
Diana word as 'n lieflike persoon beskryf. May het vertel dat sy altyd mense in die straat se huise
help skoonmaak het, soms sonder betaling bloot uit liefde vir haar medemens.
Sy word oorleef deur haar man, hul drie kinders Moraan, Michelle en Corné en twee kleinkinders.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, word 'n geregtelike doodsondersoek gedoen en geen gemene spel word vermoed nie.
Sy sê die voorval het om 22:50 gebeur. In haar verklaring sê sy: "Die polisie was besig met patrollering toe hulle rook vanaf die woning sien kom het. Toe hulle op die toneel kom het hulle rook vanaf die pakkamer sien kom. Die eienaar van die pakkamer het saam met die polisie die deur probeer oopbreek. Die brandweer is gekontak. Die liggaam van 'n vrou is binne die pakkamer gevind."
Na die nuus versprei het dat die gesin alles verloor het en nie eens klere het om na die begrafnis aan te trek nie het die gemeenskap se harte oopgegaan. Teen Dinsdag was hope klere geskenk en selfs klere gekoop vir Kosie om na sy vrou se begrafnis aan te trek. 'n Klomp mense het ook 'n geldjie bygedra sodat die gesin weer kos kan koop.
Kosie bedank almal wat hom en sy familie in die moeilike tyd bygestaan het.

Diana Swart se verbrande liggaam is Saterdag in die pakkamer gekry. 'n Kers wat omgeval het was vermoedelik die rede vir die brand. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'