Sowat 200 vrywilligers van Oudtshoorn, Dysselsdorp, De Rust, Volmoed en Schoemanshoek het die indaba bygewoon waartydens die grondwet van die Groter Oudtshoorn Vigsraad (GOLAC) weer onder die loep geneem is en aanbevelings gemaak is om wysigings aan te bring en die raad weer aktief te maak nadat dit geruime tyd dormant was.
Volgens Pat Blaauw, koördineerder van die indaba, word beplan om dit voortaan jaarliks te laat plaasvind.
Van die rolspelers wat by die indaba opgetree het is die Eden District Aids Council (Edac), Korrektiewe Dienste, die Departemente Gesondheid, Maatskaplike Dienste en Onderwys, asook Famsa en Santa.
Die verrigtinge het een oggend byna skipbreuk gely deur 'n onverwante voorval toe 'n groot groep ongelukkige tydelike werkers toegang tot die munisipale geboue probeer kry het om hulle griewe ten opsigte van wanbetaling te lug.
Hulle het op 'n stadium voor die burgersentrum saamgedrom en luidkeels opmerkings gemaak oor die tafels vol snoeperye wat vir deelnemers aan die indaba voorgesit is terwyl die werkers moet sukkel om betaling vir hulle werk te ontvang.

Lede van die Vereniging vir persone met gestremdhede (VPG) in Oudtshoorn was onder die 200 mense wat die HIV/ Vigs indaba bygewoon het. Foto: Garnett Wicomb.