PRINS ALBERT NUUS - 'n Man van Prins Albert wat van moord op sy oom aangekla was, het in die Oudtshoorn-streekhof 'n opgeskorte vonnis vir strafbare manslag gekry.
Die 23-jarige Alfonso Kleyn het in sy pleitverduideliking erken dat hy op 3 Februarie 2018 sy oom, Jakop Kleyn (45), opgetel en op die grond neergegooi het. Sy oom het op sy nek te lande gekom en gesterf.
Hy het onskuldig gepleit op die aanklag van moord, maar wel skuldig aan strafbare manslag omdat hy nie bedoel het om 'n moord te pleeg nie.
Volgens die beskuldigde was hy die betrokke dag baie kwaad omdat die oorledene hom vasgehou het terwyl twee ander familielede hom met vuiste geslaan het. Hulle het daarna weggehardloop en hy het sy oom van agter platgeduik.
"My oom het op sy nek geval en nie weer opgestaan nie," sê Kleyn in sy pleitverduideliking. Die staatsaanklaer, Willem Vister, het vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis sal wees. Kleyn se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, van die Regshulpraad het egter 'n opgeskorte vonnis versoek aangesien Kleyn nie die bedoeling gehad het om sy oom dood te maak nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging in ag geneem dat Kleyn skuldig gepleit het op aanklag van strafbare manslag en berou toon oor wat hy gedoen het. Hy is ook 'n eerste oortreder en volgens getuienis voor die hof 'n "verantwoordelike gesinsman".
Die hof het bevind dat direkte gevangenisstraf nie 'n gepaste vonnis sal wees nie, maar dat die beskuldigde planne moet maak om programme van die departement korrektiewe dienste by te woon.
Hy is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie gedurende die tydperk van opskorting weer aan 'n geweldsmisdaad teenoor 'n ander persoon skuldig bevind word nie.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert nuus'