OUDTSHOORN NUUS - Baie mense ken hom as Ricky G, die bekende radiopersoonlikheid. Ander het hom onlangs leer ken as Henricus Gysman, die DA se burgemeesterskandidaat wat tydens die plaaslike verkiesing in die kollig was. Maar wie is die man agter die bekende stem en die politieke betrokkenheid?
Gysman se storie begin op Welbedacht, ongeveer 35 km buite Oudtshoorn, waar hy in 'n nederige huishouding grootgeword het. Sy pa, Michael, was 'n plaasarbeider wat met sy inkomste 'n gesin van 10 kinders moes onderhou. Sy ouers het boonop nog vyf kinders aangeneem.
Hulle het in 'n tweeslaapkamerhuis met beesmisvloere gewoon.
"Dit was 'n eenvoudige bestaan, maar een wat my vroeg geleer het dat niks in die lewe verniet kom nie. Ek het geleer om hard te werk, te studeer, nederig te bly en nooit skaam te wees oor waar ek vandaan kom nie."
Sy ouers se invloed, sy geloof en die waardes waarmee hy grootgeword het vorm steeds die grondslag van sy lewe. Hy glo dat elke mens 'n doel het en verantwoordelik is om die geleenthede wat oor sy pad kom, reg te gebruik.
Van vrugteboorde tot die radiomikrofoon
Gysman se eerste werk was as seisoenwerker in die vrugteboorde van Calitzdorp, waarna hy as verkoopsassistent begin werk het. Hy het egter gou besef dat hy 'n ander rigting wou inslaan, en sy tasse gepak George toe.
Hier het hy vir ongeveer 12 jaar by Eden FM gewerk. Die radiobedryf het hom blootstelling aan verskillende mense, gemeenskappe en geleenthede gegee.
Hoewel hy nie meer voltyds by die radio is nie, sê hy die radiogogga het hom behoorlik gebyt en dat sy liefde vir kommunikasie en mense se stories altyd deel van hom sal bly.
Vandag is hy ook 'n entrepreneur en betrokke by Natural African Queen, 'n onderneming wat op natuurlike haar- en velprodukte fokus.
Henricus Gysman saam met sy vrou Nirvana, seun Nahüm en dogter Shêma. Foto: Verskaf
Die mens agter die openbare persona
Gysman is ook 'n familiemens. Sy vrou, Nirvana, en hul twee kinders is vir hom baie belangrik.
Hy geniet dit om saam met hulle weg te breek van die alledaagse gejaag en nuwe plekke te ontdek. En hy gaan nog steeds terug plaas toe om tyd saam met sy familie deur te bring.
Sy lewenspad was egter nie sonder uitdagings nie. Hy vertel openlik van 'n tyd toe hy op openbare geleenthede opgetree het en die kollig geniet het, maar ná afloop daarvan na 'n eenvoudige blyplek moes terugkeer waar sy matras op 'n hoop bokse gebêre is.
"Ek het selfs in daardie tyd positief gebly en vir myself gesê dit gaan nie vir altyd so wees nie. Dinge gaan beter raak."
Hy beskou die feit dat hy armoede kon oorbrug as een van sy grootste persoonlike prestasies.
Van stories vertel tot self 'n verskil maak
Gysman se belangstelling in gemeenskapsake het tydens sy jare in radio ontwikkel. Deur na mense se uitdagings, frustrasies en drome te luister, het hy besef dat hy nie net oor probleme wil praat nie, maar 'n verskil wil maak.
Hy het sewe jaar aan tersiêre opleiding in die kunste en kommunikasie, asook openbare administrasie bestee.
Sy betrokkenheid by plaaslike politiek was volgens hom nie oorspronklik deel van sy plan nie. Hy het egter al hoe meer besef hoe belangrik plaaslike regering vir mense se daaglikse lewens is.
Hy sê sy belangstelling lê daarin om die plaaslike ekonomie te sien groei, gehalte basiese dienste te bevorder en meer geleenthede vir inwoners te skep.
Drome wat verder strek as Oudtshoorn
Gysman se ambisies strek ook verder as sy huidige ondernemings en politieke betrokkenheid.
Hy wil graag sy twee winkels uitbrei na ander dele van die Tuinroete en Wes-Kaap, en uiteindelik 'n fabriek in Oudtshoorn vestig. Hy droom ook daarvan om onderrigsentrums op plekke te open waar mense nie toegang tot sulke geleenthede het nie.
Vir hom gaan sukses egter oor iets groter as besigheid, posisies of openbare erkenning. Hy hoop om 'n nalatenskap te bou waarin mense eendag kan sê dat hy nie net gepraat het nie, maar werklik geluister, gedien en geleenthede vir ander geskep het.
Nomineer ons volgende Mense van die Klein-Karoo
Wil jy iemand vir ons volgende Mense van die Klein-Karoo nomineer? Dit kan enigiemand in die Klein-Karoo wees wat volgens jou 'n unieke of interessant persoon is of ’n positiewe verskil in die gemeenskap maak. Nominasies kan gestuur word aan [email protected] of 084 825 0432. Stuur asseblief die persoon se naam, van, rede vir nominasie en kontakbesonderhede saam.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’