OUDTSHOON NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit is in die proses om die koshuis van die eertydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) wat in Springbokweg, Bridgton geleë is, vanaf die provinsiale departement publieke werke oor te koop.
Die munisipaliteit sal net as tussenganger optree tussen die provinsiale departement publieke werke en die nasionale departement publieke werke, met die koopproses.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit sal op die lange duur nie die eienaar van die gebou wees nie aangesien die gebou na die nasionale departement publieke werke oorgedra sal word. Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, sal die aankoop én herstel van die gebou deur die nasionale departement van publieke werke gefinansier word.
Oudtshoorn Courant het op 5 September 2018 berig oor die gebou se toekoms en die vervalle toestand daarvan, en het tydens die onlangse Salga-konferensie van nuwe verwikkelinge op die horison, bewus geword.
Volgens Lluwellyn Coetzee, waarnemende direkteur: strategiese dienste van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die nasionale departement publieke werke tans besig met die beplanning van dié gebou se herstel asook die proses om vas te stel watter nasionale departemente (bv. polisie, departement van arbeid, SAID, ens.) spasie sal opneem in die gebou.
Daar sal dan 'n behoeftebepaling gemaak word vir die opgradering van die gebou om die verskeie departemente te akkommodeer. Die beplanning vorm deel van dié departement se huidige proses om 'n uitvoerbaarheidstudie in te dien. Volgens Mle, bestaan daar ook 'n moontlikheid dat van die Oudtshoorn-munisipaliteit se departemente na dié gebou kan skuif omdat spasie by die burgersentrum beperk is.
Die huidige burgersentrum sal as die hoofgebou van die Oudtshoorn-munisipaliteit bly voortbestaan.
"Munisipale dienste sal dan ook vir die Oudtshoorn-gemeenskap meer toeganklik wees."
Die OKSK-gebou kan dalk eersdaags anders lyk wanneer die gebou opgeknap word.
Die koshuis van die eertydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK). Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'