Update
OUDTSHOORN NUUS - "Daar bestaan nie meer 'n party soos Suid-Kaap Saamstaan op ons boeke nie. Daar bestaan wel 'n party met die naam Saamstaan Suid-Afrika."
So het 'n verteenwoordiger van die Onafhanklike Verkiesings Kommissie (OVK) vandeesweek reageer op 'n navraag van die Oudtshoorn Courant rakende die wettigheid van die Saamstaan Suid-Afrika party.
Volgens Sebastiaan Gelant, voorsitter van Saamstaan Suid-Afrika, is die naamveranderingproses reeds in Julie-Augustusmaand vanjaar begin.
"Tesame met die wettige president van ons party, Mlandeli Nyuka, wat nou reeds vir die afgelope twee maande in hegtenis is, het ons hierdie naamveranderingaansoek voor die OVK gebring. Die ander sogenaamde Suid-Kaap Saamstaan-faksie waarvan ons in die koerante lees met hul hofsake, ken ons glad nie," sê Gelant.
Nyuka is op 2 Oktober vanjaar in hegtenis geneem nadat hy glo op 27 September by 'n beweerde voorval by die munisipale kantore betrokke was.
Die OVK bevestig in 'n brief, in besit van die Oudtshoorn Courant, dat volgens hulle rekords, Katriena Prinsloo van Saamstaan Suid-Afrika, 'n gemagtigde verteenwoordiger van die party is soos omskryf in artikel 1 van die Munisipale Kieswet No 27 van 2000.
Dié brief dui ook aan dat Nyuka steeds die partyleier is. Op die OVK se webwerf is Saamstaan Suid-Afrika se logo en partywapen ook diensooreenkomstig aangebring.
Gelant sê verder dat Nyuka geskors is as lid van Saamstaan Suid-Afrika volgens die party se konstitusie omdat hy die party in oneer gebring het. "Op die oomblik wag ons net vir die munisipale bestuurder om 'n vakante raadslidposisie in die munisipale raad in Nyuka se plek aan te wys," sê Gelant.
Suid-Kaap Suid-Afrika beëindig koalisie met die DA en Vryheidsfront Plus
Saamstaan Suid-Afrika het op 23 November in 'n verklaring te kenne gegee dat hulle hul koalisie met die DA en Vryheidsfront Plus beëindig. Volgens Gelant is hulle nie tevrede met hoe die koalisievennote die huidige strafregtelike-klagtes teen Saamstaan-raadslid, Mlandeli Nyuka, hanteer nie."
Dit kom voor asof die twee partye Nyuka se gedrag goedkeur en dis waarom ons nie met sulke partye kan werk wat hierdie tipe gedrag goedkeur nie. Hulle verdedig die optrede in die raad en media," lui die verklaring.
Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, het op sy beurt in 'n verklaring gesê hy gaan nie reageer op die inhoud van die verklaring van Saamstaan Suid-Afrika nie.
"In die eerste plek is die dispuut 'n interparty-aangeleentheid van Suid-Kaap Saamstaan. Ten tweede is daar geen koalisie ooreenkoms met Saamstaan Suid-Afrika wat die verklaring uitgereik het nie. Die koalisie is met Suid-Kaap Saamstaan. Derdens is die enigste persoon wat deur die OVK erken word as die leier van Suid-Kaap Saamstaan, Mlandeli Nyuka."Macpherson het verder gesê die dispuut oor Nyuka se leierskap tussen hom en 'n faksie van sy party sou reeds vandag in die hof voorgekom het, maar is uitgestel tot in April 2023. Derhalwe is Nyuka steeds die leier van die party totdat die hof of die OVK anders beslis," sê Macpherson.
Nyuka bedank as onderburgemeester
Nyuka het verlede week vanuit die Medium A-gevangenis in Oudtshoorn sy bedankingsbrief geskryf wat deur Speaker Johan Allers (VF-plus) tydens 'n spesiale raadsvergadering voorgelees is. Nyuka bly egter steeds 'n gewone raadslid.
Volgens Nyuka se bedankingsbrief is sy wens dat die werksaamhede van die onderburgemeesterskantoor moet voortgaan sodat dienslewering aan die groter Oudtshoorn verskaf kan word. Nyuka sê ook verder in diè brief dat sy regsprobleme wat hy tans ondervind nie in die pad moet staan van effektiewe dienste aan die gemeenskap nie.
"Gegewe die sensitiwiteit van die saak wil ek nie langer dienslewering vertraag of ontwrig nie, of die munisipaliteit, my familie en gemeenskap in oneer bring nie," lui die bedankingsbrief.
Raadslid Vlancio Donson (Icosa) is toe dieselfde dag, 24 November, sonder enige teenstem as onderburgemeester in Nyuka se plek verkies.
Vorige artikels:
- Mlandeli Nyuka bedank uit onderburgemeesterspos
- Nyuka-hofsaak bly brandpunt - ondersoek word geëis
- Saamstaan onttrek uit koalisie
- Herron: 'DA puts power before accountability'
- Raadslid Nyuka word borgtog geweier
- Onderburgemeester Nyuka steeds in aanhouding
- Burgemeester besorg oor ‘kwelpunte’ in voorbladberig
- Onderburgemeester Nyuka in tronk
- Burgemeester bewus van klagtes teen onderburgemeester Nyuka
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'