Update
OUDTSHOORN NUUS - Colan Sylvester (OGI) is verlede Woensdag tydens 'n spesiale raadsvergadering as die nuwe speaker van die raad met 13 stemme teenoor 12 verkies.
Tydens dieselfde raadsvergadering is Leon Campher van die Dysselsdorp Advieskantoor ook as die nuwe onderburgemeester van die raad verkies met dieselfde stemratio.
Oudtshoorn Courant het reeds 'n ruk gelede berig dat dié tweestuks waarskynlik die voorlopers is om dié gesaghebbende posisies in te neem.
Campher vervang Vlancio Donson (Icosa) as onderburgemeester, terwyl Sylvester die speakerposisie van Sonia Bentley (Good) oorneem.
In 'n dramatiese wending het Bentley met die aan-vang van die spesiale raadsvergadering as speaker van die raad bedank. Bentley het op 'n vraag van Vlancio Donson (Icosa) waarom sy bedank, verduidelik dat sy voel die raadslede haar nie vertrou om haar werk te doen nie.
In 'n interessante stukkie skaakspel het Chris Mcpherson (DA) op sy beurt vir Mlandeli Nuyka (Saamstaan) genomineer as onderburgemeesterskandidaat, terwyl die ANC-koalisie toe reeds Nuyka se vennoot, Campher, as hul kandidaat voorgehou het.
Nuyka was met die aankondiging duidelik oorbluf en het spontaan in trane uitgebars. Dit het Nuyka etlike minute geneem om sy emosies onder beheer te bring waarna hy gesê het dat hy sy nominasie as 'n groot eer beskou, maar dat hy dit ongelukkig van die hand sal moet wys om koalisie-instruksies te volg.
Die DA het toe vir Donson genomineer wat na stemming, deur Campher verslaan was. Nietemin het Mcpherson vir Campher gelukgewens met sy nuwe posisie as onderburgemeester en opgemerk dat dit die eerste keer in die geskiedenis van Oudtshoorn is dat beide die burgemeester en onderburgemeester van Dysselsdorp is.
Mcpherson het egter tydens 'n perskonferensie genoem dat dit kommerwekkend is dat die Groter Oudtshoorn nou 'n burgemeester en onderburgemeester het wat van Dysselsdorp is en daar woon.
Volgens Mcpherson het Campher glo by vele geleenthede sy wens uitgespreek dat Dysselsdorp sy eie aparte bestuurstelsel in plek moet hê wat volgens Mcpherson, nooit haalbaar sal wees nie.
Hierop het Campher gereageer dat daar oor die jare altyd twee Oudtshoorniete is wat die raad se burger- en onderburgemeester was en dat die blote toeval dat dit nou twee Dysseldorpers is, nie veel verskil sal maak nie.
Mlandeli Nuyka
" Die breë gemeenskap hoef nooit te voel dat ons hulle nou gaan afskeep en slegs in Dysselsdorp se belange gaan optree nie.
"Ek beoog om 'n open door policy te hê vir die Groter Oudtshoorn om my enige tyd te kom sien. Die feit dat ek nou onderburgemeester is, maak my taak bietjie makliker om my doelwitte vir die Groter Oudtshoorn te bereik omdat ek nou op die uitvoerende bestuur dien. Dis my waarborg wat ek wil gee."
Sylvester het die versekering gegee dat sy uitsluitlike doel is om toe te sien dat raadprosedures so vinnig as moontlik geskied om leemtes wat daar was, te vul, en seker te maak dat daar streng volgens prosesse gehandel word.
"Ons moet ook seker maak dat die Groter Oudtshoorn geprioritiseer word sodat dienslewering effektief gelewer word," het hy benadruk.
Colan Sylvester
Sylvester het ook onderneem dat die raadsaal se ordereëls voortaan aan die publiek voorgelees sal word vir diegene wat in die galery sit, en gewaarsku dat daar opgetree sal word teen oproeriges wat raadsvergaderings wil probeer ontwrig.
Sylvester het ook 'n aankondiging gemaak dat die burgemeester, Chad Louw, gekoöpteer is om op die Nasionale Raad van Provinsies en Provinsie uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging te dien.
Louw is op 5 Mei ingelig van die besluit en sal sy eerste vergadering op Dinsdag 10 Mei, bywoon.
Donson het na Sylvester en Campher se inhuldiging, beide mosies van wantroue teen die burgemeester, Chad Louw, en die hoofsweep van die raad, Nomsa Jaxa, teruggetrek.
Chris Mcpherson Foto's: Wyndham Ewerts
Vorige artikels:
- Hendricks se ontslag onwettig
- Donson en Hendricks uit
- Donson uitgestem as Onderburgemeester
- Gerald de Jager nuwe munisipale bestuurder
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'