Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Theuns Botha het die nuwe, moderne kliniek Vrydag amptelik geopen en gesê dat die kliniek goed vergelyk met die beste privaat spreekkamers op die dorp.
"Elke mens het die reg op die beste gesondheidsorg wat daar is, ongeag of hy geld het of nie, en hierdie kliniek maak voorsiening daarvoor." het hy gesê.
Die Oudtshoorn kliniek was eers in Regentstraat, maar dit was verouderd en onprakties. Die huidige kliniek, wat voorheen die spreekkamers van 'n privaat praktyk was, is opgegradeer teen 'n koste van R3,7 miljoen rand. Die kliniek bestaan onder andere uit 8 konsultasiekamers, waarnemingslokaal, afdeling vir geestesgesondheid, beradingskamers, wagkamer en 'n TB-afdeling.
Behalwe vir primêre gesondheidsdiens bied die kliniek 'n wye verskeidenheid dienste wat gesinsbeplanning, berading, HIV toetsing, fisioterapie en dieetkundige sorg insluit. Verlede jaar is meer as 34 000 pasiënte by die ou kliniek en deur mobiele eenhede behandel. Botha het gesê dat die kliniek in Oudtshoorn 'n voorbeeld is van die uitstekende gesondheidsorg wat in die Wes-Kaap aangebied word.
Na afloop van die amptelike opening van die kliniek het 'n eer ook die Oudtshoorn hospitaal te beurt geval. By die hospitaal se kraamafdeling het die minister die hospitaal se internasionale akkreditasie as ma- en babavriendelike eenheid onthul. Die hospitaal het die akkreditasie in 2008 ontvang en het dit behou na deeglike evaluering.
Na afloop van die twee geleenthede het die minister gesê: "Vandag is 'n mylpaal vir verbeterde dienslewering aan die Oudtshoorn-gemeenskap en dit moet ook inwoners aanmoedig om deel te naam aan hulle eie gesondheid deur voorkomend op te tree." Botha het ook gesê dat hy graag die heel eerste voorkomende eenhede in die land by hospitale en klinieke in die Wes-Kaap tot stand wil bring waar mense voorkomend behandel kan word voordat hulle siek word.

Die uiters moderne kliniek in Adderleystraat is verlede Vrydag deur Theuns Botha, minister van gesondheid, geopen.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR