KLEIN KAROO NUUS - Op vlak 1 van die Covid-19-grendeltyd, 'n fase waarin die geldratte weer begin draai, is dit die platteland wat met van die grootste ekonomiese vraagstukke te kampe het.
Marlene Malan het met 'n aantal mense hieroor gesels en verlede week die klem gelê op inwoners as die eerste blangrike aspek.
Hierdie week kom munisipalteite onder die loep.
As munisipaliteite 'n gesonde voortbestaan vir hul dorpe se inwoners wil verseker, het hulle geen ander keuse nie as om onmiddellik weer ekonomies op dreef te kom.
Kenners van munisipale ekonomiese ontwikkeling sê dié benadering geld nie net vir die talle dorpe wat vuil of flenters, kaalgesteel of vergete is nie, maar ook die beter bestuurde dorpe wat ernstige ekonomiese skade in die inperkingstyd gely het.
Terwyl party inwoners verheug is dat daar darem water in hul krane is, is ander ontsteld oor vuilgoedhope en stukkende strate en dienstegelde wat nie vir onderhoudswerk aangewend word nie.
Dit is ononderhandelbaar dat dorpsbesture 'n kernrol moet speel in die ontwikkeling en instandhouding van woonplekke wat nie kan steun op die gewone ekonomiese aktiwiteite en strukture van metropolitaanse gebiede nie.
"Plattelandse munisipaliteite kan baie doen om hul ekonomieë 'n hulpstoot te gee. Dis waarop die idee van 'plaaslike regering as ontwikkelaar' gegrond is. Dis tyd om weer te kyk na die Witskrif op Plaaslike Regering van 1998," sê prof. Doreen Atkinson, trustee van die Karoo-ontwikkelingstigting.
"Volgens die Witskrif moet die magte van 'n plaaslike regering só bedryf word dat dit die maksimum uitwerking het op gemeenskappe se maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling. Munisipaliteite verdien 'n groot inkomste uit belastings, tariewe en dienstegeld en gee werk aan duisende. Hulle speel 'n belangrike rol in die vloei van geld in die plaaslike ekonomie en is verantwoordelik vir aktiewe stappe om te verseker dat die ekonomie van 'n omgewing gunstig is vir werkskepping."
"Maar ons weet dat baie landelike munisipaliteite baie swak is," sê Atkinson. "Die beste is dat hulle hul steun bied aan plaaslike strukture soos sakekamers en toerismeverenigings."
Prof. Johann Kirsten, voorsitter van die Karoo-ontwikkelingstigting en direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit van Stellenbosch, sê dis algemene kennis dat die meeste Karoo-munisipaliteite swak bestuur word. "Daar sal baie geleenthede vir entrepreneurs en toerisme wees as dorpies net die basiese dinge reg doen – soos die bestuur van vullisgate en die skoonheid aan die buitewyke. Die EPWP-mense (Expanded Works Programme) doen meestal die minimum, en niemand organiseer die baie werkloses met 'n daadwerklike plan nie." Hy noem ook dat politieke woelinge soos wat tans in die Sentraal-Karoo gebeur, inwoners verder onseker maak in 'n tyd van erge ekonomiese terugslae.
Vir prof. Jannie Rossouw, tussentydse hoof van die Wits-sakeskool, moet 'n dorp se ekonomie 'n munisipaliteit se prioriteit wees. "Hulle moet die ekonomie op 'n hele aantal maniere stimuleer, soos plaaslike aankope en indiensneming, maar moet waak teen oorindiensneming. Hul salarisrekening moenie vinniger as hul inkomste groei nie. 'n Plaaslike regerings moet dienste bly verskaf – watervoorsiening, riolering, instandhouding."
Hulle moet egter méér doen. "Hulle moet aktief nuwe beleggers lok, juis omdat dorpe unieke produkte, dienste, omgewings en mense het. Dié voordele moet maksimaal benut word."
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'