OUDTSHOORN NUUS - Die man wat van die moord op 'n 16-jarige meisie van De Rust aangekla is het sy borgtogaansoek Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof laat vaar.
Familie van die vermoorde Deidri Opperman en gemeenskapslede van Blomnek, De Rust, het 'n
plakkaatbetoging voor die Oudtshoorn-landdroshof gehou om hul teenkanting te toon teen die toestaan van borgtog aan die 28-jarige Clifton Booysen.
Hulle het 'n versoekskrif aan die ondersoekbeampte, sers. Alicia Willard, oorhandig wat lui dat die dood van Opperman die gemeenskap in rou gelaat het.
Volgens Barbara Owen, 'n gemeenskapsleier, is die gemeenskap se versoek dat die verdag-te lewenslange gevangenisstraf opgelê moet word.
"In ons gemeenskap het daar al reeds te veel moorde plaasgevind. Ons sê genoeg is genoeg. Die gemeenskap moet nou opstaan teen geweld teen vroue en kinders," het Owen gesê.
Die Oudtshoorn Courant het Vrydag 8 September berig dat die verkoolde liggaam van Opperman 'n dag na haar verdwyning in die veld naby De Rust ontdek is.
Sy het veelvuldige beserings aan haar kop gehad en 'n bloedbevlekte klip is op die toneel gevind.
Booysen het sy borgtogaansoek in 'n stampvol hof laat vaar en landdros Roelf Konstabel het die saak vir verdere ondersoek tot 3 November uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'