CALITZDORP NUUS - Mila Benjamin (4) 'n brawe dogtertjie van Calitzdorp wat op 14 Desember 2018 in Oudtshoorn gebore is. Op die oog af was sy blakend gesond met geboorte.
Op ongeveer vyf maande het Mila se ma, Mariska agtergekom dat sy vreeslik huil - aanvanklik het sy gedink dit is net gewone koliek.
Op ses maande het Mila ook begin om haar koppie vorentoe te ruk en haar handjies in 'n biddende greep saam te klem. Op ses maande neem Mariska vir Mila na die dokters in Oudtshoorn en word sy na George-hospitaal en toe na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas.
By die Rooikruis-kinderhospitaal is MRB (MRI)-skanderings en verskeie toetse op Mila uitgevoer. West-sindroom en knolagtige sklerose-kompleks is by Mila gediagnoseer.
Simptome van West-sindroom
West-sindroom is 'n baie seldsame, ongewone epileptiese aanvalsiekte. Simptome kom gewoonlik op die vyfde maand voor en veroorsaak infantiele spasmas - die oorsaak van Mila se onwillekeurige kop- en handbewegings.
- die baba buig skielik vorentoe (vou in die middel van die liggaam) en die arms en bene verstyf.
Simptome van knolagtige sklerose-kompleks
Volgens Mariska loop dié siekte hand aan hand met West-sindroom. Hierdie kompleks is 'n ongewone genetiese afwyking wat veroorsaak dat nie-kankeragtige gewasse in baie dele van die liggaam ontwikkel.
Simptome wissel baie, afhangende van waar die gewasse ontwikkel en hoe groot hulle word - dit veroorsaak verskeie uitdagings met gesondheid - onder andere West-sindroom.
Mariska vertel dat Mila 'n normale lewe lei - tans ontvang sy by Heuwels-speelskool in 'n spesiale klassie onderrig.
"Ek is dankbaar dat sy leef, sy het al twee operasies en 'n amputasie van haar been op twee jaar oud oorleef," vertel Mariska.
Mila is tans op medikasie om die epileptiese aanvalle te beheer. Sy ontvang ook spraak-, arbeids- en fisioterapie en vorder volgens Mariska baie goed. Mila sal weer in Februarie, 'n besoek by die Rooikruis-kinderhospitaal aflê.
Mariska is positief oor Mila se toekoms, "Ek hoop dat hierdie storie 'n mamma daar buite kan bemoedig. Moenie moed opgee nie, hou uit en wees dankbaar. Ek wil graag hê dat mense bewus word van hierdie seldsame siekte."
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Karoo nuus'