DE RUST NUUS - ‘n Man van 48 is gister naby De Rust in hegtenis geneem vir die besit van ‘n ongelisensieërde vuurwapen en ammunisie.
Die arrestasie was deel van die patrollies wat tans deur die SAPD se blitspatrollie op paaie in die omgewing van kleiner dorpe in die Suid-Kaap onderneem word.
Die polisie het ‘n verdagte voertuig op die R12 naby De Rust voorgekeer en deursoek.
Hulle het ‘n 9mm pistool met lewendige ammunisie in die magasyn in die man se bagasie ontdek. Daar is beslag gelê op die wapen en ammunisie en die man is op die toneel gearresteer.
Die man was uit die Oos-Kaap na Ashton onderweg toe hy voorgekeer is. Hy sal na verwagting vandag in die landdroshof op Oudtshoorn verskyn.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'