OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse departement van vervoer het bevestig dat hulle die R213 miljoen kontrak vir opgradering van die N12 met NMC beëindig.
Ten spyte hiervan gaan die maatskappy steeds voort met konstruksie werk.
Die bevestiging is gestuur op 'n navraag van die Oudtshoorn Courant nadat NMC op 6 November bewyse aan die departement van vervoer en openbare werke moes lewer dat hulle hul verpligtinge teenoor subkontrakteurs nagekom het.
NMC staan egter die besluit teë en het 'n tussentydse hofbevel bekom om te verhoed dat die departement voortgaan met beëindiging van die kontrak.
Intussen gaan hulle voort met die padwerke asof die kontrak steeds van krag is.
Die Oudtshoorn Courant het op 3 November berig dat NMC glo miljoene aan kontrakteurs verskuldig is.
In reaksie op navrae vir daardie berig het James Dow, kontrakbestuurder van NMC, op 26 Oktober gesê die druk waaronder die konstruksiebedryf tans verkeer het 'n negatiewe invloed op NMC se kontantvloei.
Hy was egter positief dat hulle situasie teen die einde van November sodanig sou verander dat uitstaande gelde betaal sal word.
Enkele dae voordat die berig verskyn het, het twee van die subkontrakteurs wel gedeeltelike betaling ontvang.
Intussen gaan hulle voort met die padwerke asof die kontrak steeds van krag is.
Volgens een van die kontrakteurs wat klippe op die terrein vergruis het, is hy gevra om na die terrein terug te keer.
Hy het egter gesê hy sou terugkeer as uitstaande geld teen 10 November betaal is.
Die kontrakteur het verlede Vrydag (24 November) gesê die beloofde betaling van 10 November het nie plaasgevind nie.
Volgens 'n plaaslike onderneming aan wie NMC glo bykans R2,5 miljoen skuld, het hulle nou geen ander keuse as om regsadvies in te win om waarborge wat gelewer is op te roep nie.
Byron La Hoe, woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke het in reaksie op navrae op 4 Oktober gesê dat finansiële waarborge in plek is en dat NMC se werkswyse noukeurig gemonitor word.
In 'n e-pos van 10 Oktober het La Hoe gesê sy departement het ongeveer drie maande voor Oktober probleme geïdentifiseer en met instruksies en 'n waarskuwing opgetree.
In sy skrywe van Vrydag 24 November sê La Hoe: "The contract with NMC has been terminated but they have obtained a temporary court order to prevent us from carrying out the termination, which we have in turn opposed."
Op 27 November voer hy aan dat die kontrak beëindig word omdat, "the contractor failed to proceed with the works in accordance to the approved program and failed to execute the works in accordance with the contract or has neglected to carry out his obligation under the contract".
James Dow van NMC het Dinsdag bevestig dat die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke 'n poging aanwend om die kontrak te beëindig, maar dat NMC regstappe neem om die beëindiging teë te staan.
Hy het gesê dat die kwessie tans sub judice is en die Oudtshoorn Courant gemaan om nie enige ongegronde of lasterlike beweringe te publiseer nie.
Hy het ook aangedui dat die maatskappy tans advies inwin oor die berig wat op 3 November op die koerant se voorblad verskyn het.
ARTIKEL & FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'