Die twee mans het gesien dat twee wit Nissan bakkies, met die munisipaliteit se kenteken op die deure, die verlate begraafplaas binnery deur twee verskillende hekke. ‘n Bruin-kleurige Toyota Corolla het agter die een bakkie stilgehou. Die spesifieke bakkie het twee groot rooikleurige brandstofkanne op die bak gehad.
Volgens die ooggetuies het die bestuurder van die Toyota ‘n brandstofkan uit sy motor se kattebak gehaal en die twee bestuurders van die munisipale voertuie, geklee in blou oorpakke, het toe begin om met ‘n pyp brandstof uit een van die rooi kanne oor te tap na die motoris se kan toe.
Die twee mans het besef dat die opset verdag lyk en het nader gestap om die werkers te vra wat hulle doen. Die werkers en die motoris het hulle egter gewaar toe hulle nog ‘n ent weg was, in die drie voertuie gespring en dadelik weggery.
Op ‘n vraag waarom hulle besluit het om ondersoek in te stel het hulle verduidelik dat hulle al vantevore die bakkies, gevolg deur privaat voertuie, daar sien stilhou het.
Hulle vermoed dat die munisipale werkers brandstof by die munisipale depot kry en dan verkoop.
Die Oudtshoorn Courant is in besit van die name van die twee getuies wat verkies dat hul identiteit nie bekendgemaak moet word nie.
Ander getuies bevestig voorval
‘n Groepie haweloses, wat oorkant die begraafplaas gesit het, het almal bevestig dat ‘n munisipale bakkie en ‘n "vaal" Toyota by die begraafplaas ingery het en ‘n paar minute later weer vertrek het. Hulle het ook bevestig dat die bakkie twee brandstofkanne op die bak gehad het.
Vanwaar hulle gesit het kon hulle nie die ander hek sien nie en was dus nie bewus van die tweede bakkie nie.
Die Oudtshoorn Courant het die voorval by die munisipaliteit aangemeld.
‘n Geskokte Ntobeko Mangqwengwe, Munisipale woordvoerder, het onderneem om die bewerings onmiddelik by die betrokke afdeling aan te meld. Teen saktyd kon hy nog nie terugvoer gee nie maar het bevestig dat die voorval onder die aandag van die relevante afdelingshoof gebring is en dat dit ondersoek word.
Die groep mense wat ook die voertuie by die begraafplaas sien inry het.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS