OUDTSHOORN NUUS - 'n Vaardigheidskool vir tieners wat nie 'n tuiste vind in die gewone skoolstelsel nie is Maandag in Prins Albert geopen.
Die Prins Albert Vaardigheidskool (Prince Albert Skills School – PASS), die idee van die plaaslike skrywer, bestuurskonsultant en filmmaker Hélène Smit, is 'n regstreekse uitvloeisel van haar rolprent Eerstewater wat verlede jaar vervaardig en in Junie vanjaar die eerste keer vertoon is.
Twee van Eerstewater se 'akteurs', die tieners Henry Prins en Wilfred Maarman, is onder die dertien studente wat by die skool ingeskryf is.
Eerstewater is 'n sielkundige dokumentêr wat afspeel teen die agtergrond van Prins Albert en is die afgelope drie maande in verskeie groot rolprentteaters landwyd vertoon en goed ontvang.
In die rolprent vertel Prins sy lewensverhaal en praat oor sy hegte vriendskap met die intellektueel gestremde Maarman, asook die twee se interaksie met die gemeenskap.
Dit het Smit se pa, James, een van Eerstewater se finansiers, dié stelling laat maak: "Dié mannetjies moet in die skool kom!"
Smit sê sy en 'n paar ondersteu-ners van die idee het 'n sakeplan uitgewerk vir 'n vaardigheidskool. Hulle het jong mense van die dorp geïdentifiseer wat sou baat vind hierby.
Vyftien studente en hul ouers het die dorp se POP-sentrum (Pathway out of Poverty) besoek, die jong mense ingeskryf en Maandagoggend het 13 studente aangemeld.
Rodene Barends is in beheer van die skool, bygestaan deur Smit en nog 'n Prins Alberter, Bodo Wentz.
"Natuurlik kos so 'n projek baie geld, maar gelukkig het 'n hele paar borge na vore getree en ons maak staat op vrywilligers vir vaardigheidsoordrag en om klas te gee," sê Smit.
"Dis belangrik dat die jongmense, van wie die ouder-domme wissel tussen 13 en 18, nie net handvaardighede aanleer of verfyn nie, maar ook sielkundige en lewensvaardighede."
Die studente het self aangedui waarin hulle belangstel. Dit sluit onder meer in kookkuns, fotografie, sweiswerk, motorwerktuigkunde en houtwerk.
"Ons wil ook die studente se taalvaardighede, soos lees en skryf, verbeter. Hulle moet leer om idees oor te dra deur taal en musiek," sê Smit.
Smit het 'n beroep gedoen op vrywilligers wat graag hul vaardighede wil oordra om haar te nader.
Een skenker, Linda Dobbs, 'n afgetrede hooggeregshofregter van Engeland wat by verskeie opvoedkundige projekte in Afrika betrokke is, het aangebied om minstens een student 'n jaar lank te borg.
Die totale koste om die skool aan die gang te hou, beloop sowat R2 000 per maand per kind, sê Smit.
Enigeen wat graag by geleentheid wil klasgee en vaardighede wil oordra, "al is dit een keer per jaar", kan aan Smit skryf by: helene@depthleadership.co.za
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'