Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Drie kunstefees-liefhebbers van Nelspruit het die KKNK besoek met 'n bykomende agenda. Steve Gous en Klasie en Erika Botha het onderneem om hulle ervarings hier met hulle dorp se gemeenskapskoerant, Die Laevelder, te deel en gereeld hulle ervarings deur te stuur om die mense van Nelspruit op hoogte te hou van wat by die KKNK aangaan.
Die drie is gesoute en lojale Innibos-feesgangers en het hulle lywe vir vier dae in Oudtshoorn kultuurdiere gehou. 'n Moontlike "kunstefees-uitruil" het posgevat toe 'n joernalis van Die Laevelder, Zani Barrish, die Oudtshoorn Courant gekontak het met die voorstel dat Oudtshoorniete wat dalk die Innibos-kunstefees wil bywoon die drie Nelspruiters se voorbeeld volg en hulle ervarings van 'n ander fees met hulle tuisdorp deel.
Tussen die drie het hulle 39 vertonings bygewoon.
Volgens Klasie is die KKNK 'n belangrike platform waar mense kan besin oor wat met hulle en rondom hulle gebeur. Hy sê dat die KKNK en Innibos op verskillende maniere dieselfde invloed op hom het. Albei feeste het 'n unieke ritme en 'n gees wat beleef word.
"Die feeste verskil in dié opsig van mekaar alhoewel dieselfde produksies aangebied word. Dis net vir verskillende gehore."
Kyk 'n video hieronder:
Produksies wat vir hulle uitgestaan het was Uit die Bloute en Donkie en teen Sondag het Steve gesê sy ore hang al. Hulle het Maandag na Nelspruit teruggekeer.
Indien daar Oudtshoorniete is wat beplan om die volgende Innibos-fees op Nelspruit by te woon kan hulle die Oudtshoorn Courant kontak om Oudtshoorn as "feesverslaggewers" uit Nelspruit op hoogte te hou.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'