OUDTSHOORN NUUS - Hy is so dankbaar oor sy nuwe huis, maar baie hartseer ook omdat sy vrou, wat so uitgesien het na haar eie huis oorlede is, en nie die vreugde saam met hom kan deel nie.
So het die 60-jarige Dirk Stolz, die eerste persoon wat Dinsdag die sleutels van sy nuwe huis in Rose Valley ontvang het, gesê.
Die sleutels van die eerste twaalf van 332 huise in Fase 3 van die Rose Valley-behuisingsprojek is Dinsdag deur die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, Bonginkosi Madikizela, aan hul eienaars oorhandig.
Madikizela het die ontvangers gelukgewens en bygevoeg dat dit die regering se manier is om waardigheid te herstel en ook die onregverdigheid van die verlede reg te stel.
Hy het die Oudtshoorn-munisipaliteit lof toegeswaai vir wat die raad doen ten opsigte van behuising en gevra om daarmee voort te gaan.
"Dit wil voorkom asof ons net op Oudtshoorn huise bou," het Madikizela gesê. Hy het sy kommer uitgespreek oor die feit dat so baie jongmense huise kry terwyl daar bejaardes is wat reeds lank op die waglys is.
Volgens Madikizela is die behuisingsnood verstommend.
In die Wes-Kaap is die agterstand sowat 600 000 en landwyd meer as 2,2 miljoen.
Die 332 huise wat nou in aanbou is, is volgens die burgemeester, Colan Sylvester, deel van die munisipaliteit se Rose Valley-behuisingsprojek wat vanjaar die provinsiale Govin Mbeki menslike nedersettings-prys vir die beste informele nedersettings opgradering gewen het.
Hy sê die munisipaliteit is voortdurend besig om behuisingsgeleenthede aan inwoners te verskaf wat dit die nodigste het.
Fase 3 behoort teen einde Maart 2019 voltooi te wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'