Die 51-jarige Frederik Johannes Jacobus (Frikkie) Ellis, `n afgetrede ouditeur van George, is opslag dood na die Wit Toyota Tazz waarin hy en sy seun, Eugene Ellis (20) gery het, teen `n aankomende Nissan-vragmotor gebots het. Die ongeluk het om sowat 11:30 plaasgevind.
Pa en seun, beide van George, was op `n uitstappie na Oudtshoorn onderweg waar hulle die dag sou spandeer.
Eugene het glo geslaap terwyl sy pa bestuur het. Met die botsing is beide in die voertuig vasgekeer en nooddienste moes die wrak oopsny om hom te bevry en sy pa se liggaam uit te haal.
Nadat Eugene gestabiliseer en in die ambulans gelaai is, het hy na verneem word nooddienspersoneel gevra om sy ma te skakel. Op daardie stadium was hy nie bewus dat sy pa in die ongeluk omgekom het nie en het hy gevra na sy pa se toestand. Nooddienstewerkers moes hom en sy ma van die afsterwe meedeel.
Hy is na die plaaslike hospitaal geneem en is daarna na Mediclinic George oorgeplaas. Hy is vir skouer-, voet- en beenbeserings behandel en moes ook `n heupvervanging ondergaan. Eugene is `n student aan NMMU George-kampus.
Na bewering het die Toyota Tazz oor die sperstreep in die baan van aankomende verkeer beweeg en die vragmotorbestuurder kon nie betyds uitswaai nie.
Die bestuurder van die Nissan-vragmotor, asook drie passasiers is met geringe bese-rings in die plaaslike hospitaal opgeneem.
Volgens kapt. Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is polisie bewus van beweringe dat die bestuurder van die Tazz ten tye van die ongeluk met sy selfoon besig was, maar dat dit nie bevestig kan word nie. Die bestuurder van die vragmotor het na bewering aan polisie gesê dat die bestuurder van die motor op sy selfoon gepraat het en dat hy ook sy ligte geflits het om die motor te waarsku. Volgens polisie duur die ondersoek voort en moet verskeie leidrade op die toneel in ag geneem word.
Die motor se enjin wat sowat 19 m vanaf die wrak in die pad gelê het mag `n aanduiding wees van waar die botsing plaasgevind het.
Steyn het bevestig dat die vragmotor deur Sasko gebruik word om brood te vervoer, maar dat dit op daardie dag leeg was. `n Saak van strafbare manslag word deur polisie ondersoek.
Die oudburgemeester van Oudtshoorn, Lampies Lamprecht, het die oorledene beskryf as `n stil, toegewyde en nederige man wat `n voorliefde gehad het vir draf en visvang. Lamprecht het Ellis in 1985 ontmoet tydens hul militêre diensplig en was drafmaats. "Hy en sy seun was onafskeidbaar," het Lamprecht gesê. "Ons sou destyds saam `n besigheid begin toe hy `n betrekking by Mossgas aanvaar het. Ons betreur die heengaan van `n beminde kollega, atleet en steun-pilaar. Hy was nooit op die voorgrond nie en altyd iemand waarop ons staat kon maak."
Voorlopig word Ellis se ter aarde bestelling beplan vir Vrydag 14 Desember om 12:00 vanuit George.

Noodpersoneel op die toneel van Vrydag se ongeluk.
ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS