OUDTSHOORN NEWS - CapeNature en die World Wildlife Fund (WWF) het onlangs ‘n groepie joernaliste op ‘n mediatoer na Gamkaberg-natuurreservaat geneem om die bewaringsukses van die spesie te deel.
Gamkaberg-natuurreservaat is die tuiste van ‘n baie besondere troppie Kaapse bergsebras wat ‘n oorblyfsel is van die laaste 60 wat aan die begin van die 20ste eeu in die wêreld in die omgewing van Cradock, Kammanassie en in die Gamkaberg oor was.
Die eerste pogings om hulle van totale uitwissing te red het in 1937 begin met die totstandkoming van die Bergkwagga Nasionale Park op die plaas Babylons Toren naby Cradock in die huidige Oos-Kaap. Teen 1997 het hul getalle aangegroei tot bykans 200, waarvan 23 na Karoo Nasionale Park oorgeplaas is, waar vandag sowat 900 is.
CapeNature se Gamkaberg-natuurreservaat het in 1974, en die Kammanassie-natuurreservaat in 1978, tot stand gekom met die doel om ook hier die skaars Kaapse bergsebras te beskerm. Vandag het die reservate onderskeidelik sowat 42 en 25.
Van ‘n skamele 60 in die 1930’s het die Kaapse bergsebra se getalle toegeneem tot sowat 6 000. Teen die einde van 2015 was daar 4872 individue in 76 sub-bevolkings wat verspreid in die land voorkom, en hulle word vandag nie meer as bedreig beskou nie, maar is steeds “kwesbaar”.
Buiten die drie oorblyfselgroepe, is bergsebras ook in nog nege bewaringsgebiede binne, en nog sewe bewaringsgebiede buite hul natuurlike verspredingsgebied hervestig – 70% van die bersebras is binne bewaringsgebiede, terwyl 30% in privaat besit is.
Bergsebras word in hul oorspronklike verspreidingsgebied steeds bedreig deur ‘n genetiese bottelnek, wat beteken dat hulle in geïsoleerde groepe met afsonderlike genetika voorkom.
Hulle word ook bedreig deur die beperkte getalle in die sub-bevolkingsgroepe, fragmentering van habitat, en potensiële kruisteling met ander perdagtige spesies.
Volgens Coral Birss, CapeNature se soogdierkundige, wat na noukeurige navorsing ‘n plan vir die bewaring van bergsebras geskryf het, het Gamkaberg se bergsebras ‘n unieke DNS-samestelling wat nog glad nie met die bergsebras van Cradock of Kammanassie vermeng is nie.
“Die bergsebras hier se genetiese diversiteit is laag en daar het inteling plaasgevind, maar ‘n mens moet versigtig wees voordat jy ander DNA inbring: daar is ‘n fyn balans tussen die DNS onaangeraak hou, en oordeelkundig nuwe DNS in te bring.”
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'