OUDTSHOORN NUUS - Bekommerde ouers van leerders op Oudtshoorn se vrese is bewaarheid toe dit vandeesweek aan die lig gekom het dat 'n leerder van Fezekile Sekondêr die Covid-19-virus onder lede het.
Met die heropening van skole vir gr. 12- en gr. 7-leerders is baie ouers in twee geskeur oor die keuse om hulle kinders skool toe te stuur of nie.
Thembeka Mnguni, hoof van Fezekile Sekondêr, het tydens 'n onderhoud aan die Oudtshoorn Courant gesê dat sy die leerder aangesê het om haar dadelik vir Covid-19 te toets omdat daar gerugte was dat die leerder se pa dié virus onder lede het.
"Omdat dié leerder en haar pa in dieselfde huis woon was ek bekommerd dat sy dalk by hom kon aansteek en die koronavirus na die skool bring. Die kliniek het die leerder getoets en die uitslae het bevestig dat sy wel positief is met Covid-19." Volgens Mnguni het die kliniek die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) direk gekontak nadat die leerder positief getoets is.
"Die WKOD het die skool verlede Vrydag in kennis gestel waarna daar Sondag omsendbriewe aan al die ouers gestuur het.
"Die omsendbrief bepaal dat dit nie nodig is om die skool te sluit nie. Alle persone en leerders wat in kontak was met die besmette leerder sal getoets word en die klaskamer waar die leerder onderrig ontvang het, is ook afgesper. Die skool is weer ten volle ontsmet soos voorgeskryf deur ons Covid-19-beleid."
Mnguni het ook opgemerk dat dié geïsoleerde voorval binne konteks gesien moet word en daarop gewys dat die virus die potensiaal het om alle inwoners en leerders aan te steek.
"Enige leerder kan buite die beskermde omgewing van hul onderskeie skole in kontak met die koronavirus kom en dit dan onwetend skool toe bring. Juis daarom is dit uit 'n skole-oogpunt belangrik dat skole voortgaan om hul veiligheidsmaatreëls streng toe te pas. Enige leerder, wie se temperatuur net effens te hoog is, moet dadelik huis toe gestuur word sodat die kliniek of hospitaal 'n diagnose kan maak," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'