In samewerking met die SA Polisiediens en die verkeers- en wetstoepassingsdienste van die Oudtshoorn-munisipaliteit, asook die Gesamentlik Operasionele Sentrum (GOS) van die Absa KKNK en die departement van maatskaplike ontwikkeling, is 116 sorgbehoewende kinders tydens die fees in 'n ongemerkte voertuig na die St Francis Invalsentrum verwyder. Die kinders is daar deur maatskaplike werkers geassesseer en by die sentrum se aktiwiteite betrek.
Franzu Badenhorst, voorsitter van Famsa, het die getalle van die kinders wat by die invalsentrum was soos volg uiteengesit:
Saterdag 29 Maart was daar 24 kinders teenwoordig by die invalsentrum, sewe kinders het self by die invalsentrum ingeloop en 17 kinders is van die straat verwyder en na die invalsentrum geneem.
- Sondag 30 Maart - 58 by die sentrum, (12 self aangemeld en 46 deur wetstoepassers gebring).
- Maandag 31 Maart - 38 (24 self aangemeld en 14 gebring).
- Dinsdag 1 April - 34 (22 self aangemeld en 12 gebring).
- Woensdag 2 April - 39 (17 self aangemald en 22 gebring).
- Donderdag 3 April - 26 (Almal het self aangemeld)
- Vrydag 4 April - 21 kinders (16 self aangemeld en vyf gebring).
Tydens die Towerfluitklanke-projek is daar op verskillende kunsaktiwiteite, drama-, dans-, en poppespel gefokus. Die aktiwiteite is hoofsaaklik deur Anne French van St Luigi's gekoördineer, en Godfrey Johnson en sy span vanaf Kaapstad het die drama- en dansopleiding behartig. Personeel en vrywilligers van beide St Francis Invalsentrum en St Luigi's het die aktiwiteite ondersteun.
Die kinders is ook aan feesaktiwiteite blootgestel. Hulle is in klein groepies en onder toesig van personeel na die Absa KKNK opening op 29 Maart, asook na die pretpark in die Rivierbuurt
geneem. Daar kon kinders na hartelus aan verskillende ritte in die pretpark deelneem. Dit is gedoen in 'n poging om die kinders met die breë gemeenskap asook die fees te integreer.
Absa Bank het op 2 April 'n korporatiewe maatskaplike oorhandiging aan die St Francis Inval-sentrum gemaak. Dit is die tweede oorhandiging van gebruiksartikels (onder meer stoele, tafels en kombuistoerusting) ter waarde van R20 000 aan dié sentrum. Suzette Cilliers, bemarkingsbestuurder van Absa Bank vir die Oos- en Suid-Kaap, het die oorhandiging aan die Invalsentrum gemaak. Die kinders het ook elk 'n geskenkpakkie vanaf Absa Bank ontvang. Famsa Karoo en die St Francis Invalsentrum wil Absa Bank opnuut vir die oorhandiging bedank.
KykNet se Dagbreek ontbytprogram het bogenoemde oorhandiging op film vasgelê en 'n insetsel is op 3 April uitgesaai. Onderhoude is met personeel, kinders en rolspelers betrokke van die Absa KKNK en Absa Bank gevoer. Famsa Karoo wil graag alle rolspelers wat tydens die Absa KKNK by die St Francis Invalsentrum betrokke was vir hulle ongelooflike samewerking bedank.
FOTOGALERY
Kinders wat op straat bedel is in samewerking met die polsie, asook verkeer- en wetstoepas-singsdienste van die Oudtshoorn-munisipaliteit, vir hulle veiligheid na die St Francis Invalsentrum verwyder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'