Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die eienaar van 'n bekende haarsalon in Oudtshoorn is verpletter na sy salon en 'n deel van sy huis Sondagaand in 'n brand beskadig is.
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant op die toneel Sondagaand was die brandweer reeds besig om die brand in die dak van die gebou te blus.
Volgens die eienaar, wat verkies om anoniem te bly, woon hy en sy ma in die gebou waarin die salon geleë is. Die salon is in die voorste deel van die gebou. Die kombuis en leefarea is net agter die salon en die man was Sondagaand besig om kos te skep toe sy ma die rook in die dak gewaar.
"Ons het vuur in die kombuis se kaggel gemaak. Die skoorsteen het die plafon aan die brand gesteek en van daar het die brand versprei na die dak van die salon."
Hy het Sondagaand op die toneel gesê hy het twee brandblussers leeggespuit in 'n poging om die brand te blus, maar meeste van die vlamme was bokant die plafon waar hy dit nie kon bereik nie.
Kyk 'n video hieronder:
Die kombuis en 'n gedeelte van die sitkamer is erg beskadig. Die res van die huis, sowel as die salon het ernstige rook- roet- en waterskade opgedoen. Volgens die eienaar is hy nog nie seker wat die skade beloop nie aangesien 'n assesor nog die skade moet vasstel vir versekeringsdoeleindes.
"Dit is 'n hartseer ding. Die pandemie het alle haarkappers swaar getref en nou moet die salon nog 'n ruk toe wees sodat die skade herstel kan word. Maar ek sal weer bo uitkom. Ek doen altyd, maar dit is verskriklik hartseer. Ek besit die besigheid al 30 jaar en is op die perseel al vir die afgelope ses jaar."
'n Deel van die kombuis en die leefarea wat in die brand beskadig is.
De kombuis Maandag na die brand. Die kaggel heel links is waar die brand ontstaan het.
Die skade wat deur die brand aan die salon se dak aangerig is.
Die salon Sondagaand terwyl die brandweer spook om die brand te blus. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'