Update
OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R5 000 is Woensdag in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan Lorenzo Malgas (23), een van die vier verdagtes wat van die moord op Justin Booysen (30) van Rosebank teregstaan.
Lorenzo staan saam met Simphiwe Ndoni (31), Ephraim Malgas (41) en Breyton Bruiners (25) tereg op aanklag van moord en aanranding om ernstig te beseer. Ndoni en Bruiners gaan nie om borgtog aansoek doen nie.
Booysen is op Sondag 17 November 2019 in sy huis in Bella Rosasingel, Rosebank, doodgeskiet.
Die borgtogaansoek van Ephraim Malgas is uitgestel omdat sy regsverteenwoordiger nie Woensdag teen-woordig was nie. Die ondersoekbeampte, ao. Darome Burger, het borgtog teengestaan omdat sy vir die applikant se eie lewe vrees.
Volgens haar het Lorenzo die betrokke aand 'n persoon wat die hek van Booysen se erf toegehou het, met 'n mes gedreig en ook iemand anders aangerand.
Sy het getuig dat die polisie twee vuurwapens gevind het en dat daar gewag word op die ballistiese verslag van die tweede wapen wat moontlik die moordwapen kan wees.
Volgens haar is 'n memorandum met 1 824 handtekeninge aan die hooflanddros oorhandig waarin familie en hul ondersteuners versoek dat borgtog nie aan die verdagtes toegestaan moet word nie. Lorenzo se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het vir sy vrylating gevra omdat hy nie 'n vlugrisiko is nie en daar geen getuienis voor die hof is dat hy getuies sal intimideer of dreig nie.
Lorenzo het aangedui dat hy onskuldig sal pleit en het nog niemand gedreig nie.
"Hy sal veilig wees buite. Hy sal niemand pla nie en niemand sal hom pla nie," het Metembo afgesluit.
Die staatsaanklaer, Mervin Saayman, het die hof meegedeel dat die belange van die gemeenskap van groot belang is in die saak.
"Die staat het 'n sterk prima facie saak teen die applikant en hy het nie bewys dat hy op borgtog vrygelaat moet word nie."
Landdros Theolin November het in sy uitspraak gesê dit is duidelik dat aangeleentheid groot belangstellig onder die publiek geniet en dat die grondwet almal se veiligheid waarborg. Hy het egter beklemtoon dat dit nie reg van die gemeenskap is om te dreig om die reg in eie hande te neem nie.
Hy het bevind dat Malgas met sy skoon rekord nie 'n geneigdheid toon om misdaad te pleeg nie en geen bewyse voor die hof is dat hy nie hof sal bywoon of getuies sal probeer beïnvloed nie en borgtog toegestaan.
Sy borgtogvoorwaardes is dat hy nie Suid-Afrika mag verlaat nie, nie betrokke raak by enige misdaad nie en elke Maandag en Vrydag tussen 18:00 en 20:00 by die Bongolethu-gemeenskapsdienssentrum aanmeld.
Die saak word op 11 Februarie hervat met die borgtogaansoek van Ephraim Malgas.
- Die moeder van Justin Booysen, Catherine Saptou, het na die hofverrigtinge haar teleurstelling oor die verloop van die saak uitgespreek.
Volgens haar is sy nie in kennis gestel dat die borgtogaansoek Woensdag sou plaasvind nie aangesien dit geskeduleer was vir Donderdag 23 Januarie.
Volgens haar geniet die beskuldigdes voorkeur behandeling terwyl die slagoffer se familie geïgnoreer word.
Lees vorige artikels:
- Een in Booysen-moordsaak kry borgtog
- Honderde by Justin se begrafnis
- Verdagtes in Justin Booysen-Moordsaak wil nie borg hê
- Borgtogaansoek uitgestel
- Vier verdagtes vas na moord
- Vierde verdagte vas na moord
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordverdagtes Môre voor
- Jong man doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'