OUDTSHOORN NUUS - Die 23-jarige bestuurder van ‘n bakkie waarin twee inwoners van Volmoed op Sondag 17 Januarie 2021 tragies gesterf het, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof ’n opgeskorte vonnis van agt jaar opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Urban Nyembeni het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan waarin hy skuldig pleit op twee aanklagte van strafbare manslag en een van bestuur sonder ‘n geldige rybewys.
Sy suster, Geraldine Nyembeni en ‘n goeie vriend, Simon Mei, albei 27 jaar oud, is in die ongeluk dood.
Agt volwassenes en 'n sewejarige kind was passasiers in die bakkie wat omstreeks 02:00 vanaf die Kliplokasie gery, die pad verlaat en ‘n bloekomboom langs die pad getref het.
Volgens getuienis voor die hof was die eienaar van die bakkie na ‘n kuier nie in staat om die voertuig te bestuur nie en was Nyembeni, die enigste wat nie alkohol gebruik het nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het toegegee dat dit onder omstandighede regverdig sal wees om Nyembeni nie swaar te vonnis nie.
"Hy het nie die hof se tyd gemors om die twee families weer deur al die trauma te laat gaan om te kom getuig nie. Almal het hom ook vergewe."
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê hoewel albei families Nyembeni vergewe en die hof versoek het om hom nie tronk toe te stuur nie, hy nie net ligtelik op die skouer getik kan word nie.
“Twee mense het hul lewens verloor en dit is tragies hoe koud mense teenoor die dood geword het,” het die landdros gesê.
Die hof het in ag geneem dat almal die aand hul vertroue in die beskuldigde gestel het en hom nie vir die ongeluk blameer nie.
Hy het egter oop kaarte met die hof gespeel en skuldig gepleit.
Die hof het ook in ag geneem dat hy sy pa in 2008 in‘n motorongeluk verloor het en in 2016 ook ‘n broer.
Die hof het die twee klagtes van strafbare manslag vir vonnis saamgeneem en Nyembeni tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Voorts is hy tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat behels huisarres vir 24 uur per dag vir die volle drie jaar behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Vir die bestuur van ‘n voertuig sonder ‘n rybewys is hy ‘n boete van R1 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê terwyl die hof ook gelas het dat hy nie binne die volgende ses maande om ‘n bestuurslisensie aansoek mag doen nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'