OUDTSHOORN NUUS - Twee insittendes van ‘n voertuig is gisteroggend (Sondag 17 Januarie) omstreeks 01:30 in ‘n botsing buite Oudtshoorn dood.
Die Oudtshoorn Courant het gister van die botsing verneem, maar het vandag amptelike bevestiging van die polisie ontvang.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie is Geraldine Mbeni en Simon May noodlottig beseer toe die voertuig ‘n boom naby die Volmoed-winkel getref het. Daar was nege mense in die voertuig.
Dit blyk dat die bestuurder die toneel verlaat het voordat die polisie by die toneel aangekom het. Volgens Visser het die bestuurder eers Sondagmiddag by die hospitaal opgedaag.
Van die ander sewe insittendes van die motor is vier beseerdes na George oorgeplaas en een is steeds in die Oudtshoorn hospitaal. Die ander twee is reeds ontslaan.
Volgens voorlopige inligting wat die Oudtshoorn Courant ontvang het, is een van die beseerdes ‘n kind, maar dit kon nog nie bevestig word nie.
Naasbestaandes van die oorledenes kon teen vanmiddag nog nie gekontak word nie.
Volgens Visser ondersoek die polisie klagte van strafbare manslag, dronkbestuur en versuim om hulp te verleen.
Aangesien die botsing meer as vier ure na die aandklokreël wat met die inperking ingestel is, plaasgevind het, word ‘n klag van versuim om aan regulasies van die wet op rampbestuur te voldoen ook ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'