OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) bied Saterdag 28 November 'n gholfdag by die Oudtshoorn-gholfklub aan om fondse vir die forum se plaaslike projekte in te samel.
Volgens Leoni Fourie, lid van die Oudtshoorn-GPF se hoofliggaam, is die geleentheid 'n belangrike fondsinsamelingsinisiatief vir die forum.
"Die GPF word deur vrywilligers bestuur en ontvang geen finansiële bydraes nie. Ons wil egter meer by die gemeenskap betrokke raak en groter bewusmaking skep, maar daarvoor het ons finansiële ondersteuning nodig," sê Fourie.
Sy sê van die fondse sal onder meer aangewend word om slag-offerkamers by die verskillende polisiestasies op te knap, sodat dit 'n meer gebruikersvriendelike en ondersteunende ruimte vir slagoffers en die gemeenskap kan bied.
Iets vir elke gholfspeler
Die gholfdag bied geleenthede vir sowel ervare gholfspelers as beginners:
• 9 putjies: Afslaan om 08:00 - R200 per speler
• 18 putjies: Afslaan om 12:00 - R400 per speler
Die formaat is gekombineerde Stableford. Deelnemers kan ook uitsien na 'n ligte middagete, wat by die inskrywingsfooi ingesluit is, asook gelukstrekkings en drankies by putjies (wet holes).
Groot prys op die spel
Deelnemers aan die 18-putjie-kompetisie staan 'n kans om 'n besonderse prys te wen: 'n twee-nag, alles-inslui-tende verblyf by die vyfster Moditlo River Lodge, 'n Big Five-reservaat naby Hoedspruit.
Die totale waarde van die spanprys is R60 000. Elke speler ontvang 'n koopbewys vir twee persone ter waarde van R30 000.
Die GPF nooi die gemeenskap, besighede en gholfliefhebbers uit om die inisiatief te ondersteun en sodoende 'n bydrae tot 'n veiliger Oudtshoorn te lewer.
Vir meer inligting of om in te skryf, kontak Leoni Fourie by 081 311 9211.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’