Update
OUDTSHOORN NUUS - Die besluit van 'n groep vriende om in weerwil van die aandklokreël lank na middernag iewers heen te ry, het Sondagoggend tragiese gevolge gehad.
Simon Mei (27) en Geraldine Nyembeni (27) is op die toneel dood toe die bakkie waarin hulle was, Sondagoggend omstreeks 01:30 'n boom getref het.
Hulle was saam met ses ander volwassenes en 'n kind van sewe jaar van Kliplokasie net buite Volmoed, onderweg na Geraldine se huis sowat drie kilometer verder.
Geraldine se ma, Hendrina, was Maandagoggend vir die hoeveelste keer by die bloekomboom waarteen die bakkie met nege insittendes gebots het. Sy het daar aan Oudtshoorn Courant die merke op die teerpad gewys wat moontlik daarop dui dat 'n band gebars het. Volgens haar het die bakkie dwars gedraai en die boom met die bakgedeelte getref.
"My twee dogters en kleinkind was agter op die bakkie en ek dink Simon het seker ook daar gesit. Die canopy het afgeruk en die bakkie het deur die heining in die mense se erf gaan staan," sê sy en wys na 'n heining van die erf langs die boom. Die heining was teen Maandagmiddag herstel.
Hendrina se ander dogter, Michelle (25) en dié se seuntjie, Haywin (7), was teen Dinsdag nog in die hospitaal in George waarheen hulle saam met twee ander pasiënte oorgeplaas is.
Volgens Hendrina lyk dit asof die groepie vriende vanaf Kliplokasie waar hulle gekuier het, na haar huis onderweg was. Haar huis is skaars 500m van die botsingstoneel.
Katy Swarts, die ma van die ander slagoffer, Simon May, het Maandag in Kliplokasie gesê sy het nog nie kans gesien om haar seun se liggaam te gaan uitken nie. "Ek is nog te geskok, ek wag vir my oudste seun van George om te kom dan sal hy saam met my gaan." Sy sê toe iemand haar Sondagoggend net voor 02:00 wakker klop met die nuus dat Simon in 'n ongeluk was, het sy geweet dis ernstig.
"Twee jaar gelede het 'n bakkie hom op die hoofpad van sy fiets afgery terwyl hy op pad werk toe was. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en die dokters het gesê hy mag nie weer 'n harde hou teen die kop kry nie."
Simon het 'n paar huise van haar af gebly en volgens haar het die Bantam-bakkie wat in die botsing was, die hele middag en aand in Kliplokasie rondgery. "Die mense sê dis nie die eienaar wat bestuur het nie, maar toe ek by die toneel kom, het hulle gesê die eienaar en die bestuurder het weggehol. Ek weet nie wat die waarheid is nie."
Sy sê sy wou dadelik na die toneel toe hardloop, maar bure het gesê sy kan nie so ver in die donker hardloop nie en iemand het haar later 'n geleentheid gegee. "Toe ek daar kom was die liggame nie meer daar nie."
Sy vertel ook dat haar eerste kind, 'n meisie van 10, sowat 20 jaar gelede langs dieselfde pad deur 'n motor doodgery is.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat die bestuurder van die bakkie nie op die toneel was met die polisie se aankoms nie. Die bestuurder het Sondagmiddag by die hospitaal aangekom en is na behandeling ontslaan.
Volgens Visser is vier beseerdes na George oorgeplaas en een was teen Maandag nog in die Oudtshoorn-hospitaal terwyl twee ontslaan is.
Die polisie ondersoek klagte van strafbare manslag, dronkbestuur, versuim om regulasies van die wet op rampbestuur na te kom en versuim om hulp te verleen op die ongelukstoneel. Die rampbestuurklag hou verband met die aandklokreël wat van 21:00 tot 05:00 geld.
Geraldine Nyembeni
Simon Mei
Vorige artikel: Twee sterf in oggendure
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'