OUDTSHOORN NUUS - Die sluiting van die bekende Turnberry Boutique Hotel is die einde van 'n bekende instelling, maar ook die begin van iets nuuts, sê Niel Els, mede-eienaar.
Dié hotel word volgende Vrydag, 29 Januarie, in geheel met inhoud opgeveil.
"Ons het geen ander keuse nie," het Els, Dinsdagoggend gesê terwyl hy vir die afslaer gewag het wat die hotel ter voorbereiding van die veiling sou besoek.
"Met die afkondiging van die inperking verlede jaar het ons sedert 23 Maart geen gaste ontvang nie. Die hotel met sy 22 kamers en kapasiteit vir 60 mense, die konferensie gedeelte, restaurant en kroeg was dolleeg. Dit het tot reuseverliese gelei."
Volgens Els bestaan 95% van hulle besigheid uit buitelandse besoekers en selfs die oorblywende 5% binnelandse besoekers gaan gepaard met groot geleenthede soos die KKNK en sportgeleenthede wat ook nie met die inperking plaasgevind het nie.
Turnberry het in 2007 as Kannaland Lodge oopgemaak en Els is sedert 2010 by die onderneming betrokke.
"Die groot bekommernis wat my snags laat wakkerlê is die lot van ons personeel. Van die oorspronklike 14 is daar tans net sewe en selfs hulle het net nou en dan ingekom toe ons met die vlak 2-inperking enkele gaste gekry het."
Els sê die gebou het enorme potensiaal vir voornemende kopers. "Alles is byvoorbeeld reeds in plek om dit in 'n wellness /rehab-fasiliteit te omskep. Daar is reeds gevorderde onderhandelinge vir so 'n ommeswaai. Dis 'n goeie besigheidsmodel met baie goeie winste vir 'n nuwe eienaar." Behalwe dit voel hy die gebou is ook ideaal vir 'n mediese kliniek.
Els sê indien die nuwe eienaars sou besluit om die perseel weer as 'n hotel te bedryf, sal hy beslis beskikbaar wees om dit te bestuur.
In antwoord op 'n vraag oor die toekoms van besighede en toerisme in Oudtshoorn vir 2021, sê Els: "Ons sal ons manier van besigheid doen heeltemal moet aanpas. Besighede sal moet leer om baie slim te boks as hulle hierdie geveg wil oorleef."
Hy sê dit is buitensporig duur om 'n onderneming in die gasvryheidsbedryf in Oudtshoorn lewensvatbaar te bestuur.
"Die koste om 'n hotel in Oudtshoorn te bedryf is uit verhouding duurder as ander plekke as gevolg van die hoë tariewe en belasting wat ons betaal," sê hy en voeg ook by dat die gedurige konflik en politiekery in die munisipaliteit die kwessie vererger.
Els het 'n uitgebreide kennis van toerisme en die gasvryheidsbedryf wêreldwyd en volgens hom is die land se inperkingsmaatreëls in baie opsigte drakonies en ondeurdag.
"Die regering het tydens die eerste lockdown die geleentheid gehad om die hospitale gereed te kry.
"Ons almal weet dit het nie gebeur nie en dat biljoene gesteel is. Die wynbedryf is 'n onnodige slagoffer, so ook die gasvryheidsbedryf terwyl die vervoerbedryf voorskryf aan die regering en wegkom met moord.
Geen ander land het 'n verbod op alkoholverkope of tabakprodukte nie. Geen ander land ontplooi die weermag met outomatiese gewere om mense van die strande weg te hou nie. Die grootste fiasko is die feit dat ons nog geen entstof het vir die land nie."
Wat sy persoonlike toekomsplanne betref sê Els dit hang af van wat volgende Vrydag met die veiling gebeur. "Alles hang af van die suksesvolle verkoop van die hotel en of die nuwe eienaar my gaan nodig hê.
"Ek sien uit na nuwe avonture en sal graag in die gasvryheidsbedryf wil bly, ten spyte van die uitdagings. Ek sal ook graag in Oudtshoorn wou aanbly."
Die hoofingang van die bekende Turnberry Boutique Hotel in Oudtshoorn. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'