Update
OUDTSHOORN NUUS - Midde gerugte van DA-raadslede wat dreig om te bedank, beskuldigings dat die speaker weier om raadsvergaderings te belê en beweerde vergaderings agter geslote deure, is Oudtshoorn se begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) Maandagoggend ter tafel gelê.
Die spesiale raadsvergadering het gevolg nadat die een wat verlede Vrydag sou plaasvind op die nippertjie afgestel is. Dit blyk dat die burgemeester en munisipale bestuurder Vrydag deur 'n aantal raadslede genader is om te verseker dat die vergadering van Maandag sou plaasvind.
Maandag se vergadering het alles behalwe glad verloop. Raadslede van die ANC, EFF, Icosa en Sarco, het die speaker, Julia le Roux aanhoudend onderbreek.
Terwyl sy probeer het om die burgemeester, Colan Sylvester, aan die woord te stel om sy voorstel oor die begroting te hanteer, het verskeie raadslede luidkeels beswaar gemaak. Sy het gedreig om raadslede die raadsaal te belet.
Die ANC se hoofsweep in Oudtshoorn, Jongilizwe Tyatya, het die speaker daarvan beskuldig dat sy nie onpartydig is nie en nie namens die hele raad optree nie. Raadslede Vlancio Donson (Icosa), Jevan Juthe (Sarco) en Diswauyne Maarman (EFF) het daarop aangedring dat die speaker verduidelik waarom sy laas op 28 Februarie 'n raadsvergadering gehou het.
Juthe het 'n breuk versoek sodat die partye se hoofswepe kan koukus. Na 20 minute het hulle teruggekeer en Juthe het die speaker meegedeel dat hulle nie die agenda gaan behandel voordat sy 'n verduideliking gee oor die afwesigheid van raadsvergaderings nie.
Volgens hom eis die hoofswepe ook dat die burgemeester duidelikheid gee oor die aard en omvang van kriminele klagtes wat hy drie weke gelede teen vermoedelik die munisipale bestuurder gelê het.
Le Roux het gesê almal weet dat sy siek was, maar dat sy nou gesond en op haar pos is. Dit het tot groter en luider reaksie gelei. Le Roux het die uitbarstings van verskeie raadslede geïgnoreer en die burgemeester versoek om sy voorstel te maak, waarna dit gesekondeer is.
Daar kon glad nie gehoor word wat die burgemeester gesê het nie, maar Le Roux het later telefonies bevestig dat hy voorgestel het dat die begroting en GOP ter tafel gelê word sodat die proses kan begin om die sperdatum van 30 Junie te haal.
Raadslid Donson het aan die media genoem dat die voorstel sonder 'n teenvoorstel aanvaar is. By navraag hieroor het Le Roux egter gesê daar word nie teenvoorstelle gevra wanneer 'n begroting ter tafel gelê word nie. "Die begroting word nog nie goedgekeur nie, dit was bloot die begin van die proses."
Volgende week vind agt publieke-deelname vergaderings op verskeie plekke in en om Oudtshoorn plaas om inwoners die geleentheid te gun om insette te lewer.
Lees vorige artikels:
- DA koukus kaap toe
- Publieke deelname vir begroting begin
- Begroting ter tafel midde teen kanting
- Raadslede soek redes
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'